Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Peiling: Ras bepaal regte, voel Afrikaners

Sommige Afrikaners meen ras speel steeds ’n deurslaggewende rol in Suid-Afrika en dat mense nie net daarvolgens geklassifiseer word nie, maar dat jou ras ook jou regte bepaal.

“Dit is ongelukkig die prentjie wat ons gekry het ná ’n meningspeiling op sosiale media,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut (SNI), nadat die vakbond die afgelope naweek ’n verslag oor rassediskriminasie in Suid-Afrika bekend gemaak het.

Volgens Mulder toon die peiling, waarop 4 856 respondente gereageer het, dat ras feitlik allesoorheersend in Suid-Afrika is.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut.

“Dit is besonder onrusbarend, gegewe ons geskiedenis, dat ’n minderheidsgroep so voel. Die doel was om te kyk wat is ons lede, maar ook spesifiek die Afrikanerkultuurgemeenskap, se ervaring van rassediskriminasie. Die kruks is dat hoewel nierassigheid in die Grondwet vervat is, word dit nie op grondvlak so ervaar nie.”

Solidariteit voer aan die situasie wat tans in Suid-Afrika heers, is totaal abnormaal en dat die regering se aandrang op ’n soort apartheid-rasseklassifikasie – en die gevolglike afdwing van rasregulering wat mense se werk, dienslewering en kinders regstreeks raak – enorme skade aan rasseverhoudinge veroorsaak.

“Wat my die meeste skok, is hoe sommige respondente die abnormaliteit wat hulle beskryf net gelate aanvaar, en daar heers ’n soort hulpeloosheid om dit te verander,” sê Mulder.

Solidariteit se verslag sal deel vorm van ’n groter klagte wat die vakbond in September by die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie (CERD) gaan indien.

“Ons gaan ook die verslag by verskeie Europese parlemente indien,” sê Mulder.

Voortslepende rassediskriminasie, soos saamgevat in Solidariteit se verslag, is vir die politieke ontleder Theo Venter nie ’n verrassing in die hedendaagse Suid-Afrika nie.

“Om die rasbeheptheid van apartheid om te draai, is die huidige wetgewing van die regering weer gegrond op ras. Dit staan strydig teenoor die ANC se benadering van nierassigheid. Op ’n manier het die ANC dus eintlik rasbewustheid van voor 1994 verder geïnstitusionaliseer op ’n baie wye front. Oral word mense nou verplig om te tel hoeveel mense is wit en hoeveel is swart,” sê Venter.

“Daar is geen twyfel nie dat Suid-Afrika een van die mees rasgedefinieerde en rasgeïnstitusionaliseerde lande ter wêreld is,” sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit.

“Dit beteken daar is wette wat mense op grond van ras kategoriseer, wat baie dieselfde is as wat tydens apartheid gebeur het. Die vlakke van rassepolarisasie wat ek op die oomblik binne ons samelewing waarneem, is na my mening groter en erger as in enige tyd wat ek dit al tevore gesien het, selfs in die tydperk voor 1994. Rassepolarisasie is noodsaaklik vir die regerende party om steun te mobiliseer.

“Dit is soos ’n sepie,” sê Duvenhage. “Jy het ’n J.R. Ewing nodig om ’n storie aan die gang te hou. So het die ANC rassepolarisasie en die wit gevaar nodig om homself te verontskuldig en te regverdig.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Connie Mulder  |  Peiling  |  Regte  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.