Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Pensioen: Cosatu sien ook rooi ligte

Vakbonde vertrou die regering glad nie met hul lede se pen­sioengeld nie en is deur die bank vasberade om te keer dat dit onoordeelkundig gebruik word om sukkelende staatsondernemings te red.

Selfs die vakverbond Cosatu, op wie se steun pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week geroem het, sê hy sal dit slegs toelaat onder streng voorwaardes.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sal nie huiwer om saam met ander onderwysvakbonde en eweknieë binne die vakverbond Fedusa tot in die konstitusionele hof daarteen te veg nie, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof.

Ramaphosa het die afgelope week in die parlement aangedui die regering, in ooreenstemming met ’n besluit van die ANC, oorweeg inderdaad ’n beleid van “voorgeskrewe bates”. Hy het bygevoeg dat dit ook in belang van pensioentrekkers moet wees.

Volgens die Vereniging vir Spaar en Beleggings in Suid-Afrika (Asisa), wie se lede altesaam R7,8 miljard van Suid-Afrikaners se spaargeld bestuur, verwys “voorgeskrewe bates” na ’n regeringsbeleid wat die bedryf dwing om te belê in aandele en -effekte wat deur staatsondernemings uitgereik is.

‘Teen ’n tersaaklike opbrengskoers van tussen 8% en 9% op sê maar 2,5% van die totale beleggings van die amptelike pen­sioenfondse, kan daar weinig fout met so ’n regulasie gevind word.’
Dr. Roelof Botha

Vakbonde vrees deur die bank dat so ’n verpligting hul lede se pensioengeld in ’n swart gat sal stort om ondoeltreffende organisasies soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aan die gang te hou.

Die kwessie is hoog op die agenda van die vergadering van Cosatu se sentrale uitvoerende komitee wat van Maandag af gehou word, het Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, aan Rapport gesê.

Pamla sê Cosatu verstaan dat Suid-Afrikaners in beginsel deel moet vorm van die oplossing vir die land se ekonomiese probleme. Maar nie alle staatsondernemings is van strategiese waarde nie. Hy sê die regering kan byvoorbeeld maar van SAL ontslae raak, maar as Eskom in duie stort, sal die hele ekonomie en dus elke werker ook, daaronder ly. Cosatu steun daarom die beginsel van pensioenfondsbeleggings in Eskom-effekte, “maar ons wil ’n sê hê”.

Pamla sê lede se pensioengeld kan nie in staatsondernemings ingeploeg word in hul huidige vorm nie. Korrupsie moet stopgesit word en die reusesalarisse vir topbestuur moet einde kry. Hy sê die vertrouensbreuk met die regering kan net oorbrug word deur streng voorwaardes te stel vir die gebruik van pensioengeld.

“Die regering het op sy eie misluk hiermee,” sê hy, en daarom sal Cosatu net instem mits lede inspraak het.

Die vakbondfederasie Saftu het op sy nasionale uitvoerende komitee se vergadering Vrydag besluit om ’n vergadering te vra met die nasionale tesourie oor die kwessie, asook ’n werksessie met ander vakbonde.

Moleko Phakedi, adjunk-sekretaris-generaal van Saftu, sê dis nie vir die regering nie, maar vir werkers self om te besluit wat die beste manier is om hul pensioen te belê. Daar sal meganismes moet wees wat verhoed dat pensioengeld bloot gebruik word as lewensboei om korrupsie en wanadministrasie in stand te hou, sê hy.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, sê egter indien die regering pen­sioenfondse dwing om ’n klein persentasie van hul geld in staatseffekte te belê vir spesifieke infrastruktuurprojekte (soos die inskakeling van hernieubare energiebronne in die land se kragnetwerk), kan opbrengste van na aan die huidige effektekoers verwag word. “Teen ’n tersaaklike opbrengskoers van tussen 8% en 9% op sê maar 2,5% van die totale beleggings van die amptelike pensioenfondse, kan daar weinig fout met so ’n regulasie gevind word, veral indien die projekte aan behoorlike korporatiewe bestuur binne ’n vennootskap tussen die regering en die private sektor onderhewig gemaak word,” sê hy.

Hy sê private pensioenfondse het sedert 2013 in elk geval redelik swak gevaar, wat die argument ten gunste van sulke voorskrifte versterk.

Ngoku-Sakhile Mazwi, besturende direkteur van die fondsbestuurder Bayakha Infrastructure Partners, sê ook voorgeskrewe bates kan voordelig wees vir pensioenfondse én ontwikkeling in die land bevorder, mits dit beperk word tot die belegging van 10% van bates in ’n gespe­sifiseerde lys van infrastruktuurprojekte.

Ten spyte van die weerstand teen regeringsdwang is daar wel oor ’n breë front bereidwilligheid om in infrastruktuurprojekte van die regering te belê, met voorwaardes.

Asisa se lede werk reeds saam met die regering aan die finansiering van infrastruktuur in die water- en energiesektor en studentebehuising en het reeds meer as R1 300 miljard belê, sê die organisasie. Asisa is ten gunste van vennootskappe tussen die regering en die private sektor soos met byvoorbeeld die Gautrein.

) Lees ook die onderhoud met Enoch Godongwana in Weekliks.

Meer oor:  Sizwe Pamla  |  Cyril Ramaphosa  |  Roelof Botha  |  Pensioenfondse  |  Saftu  |  Cosatu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.