Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Peter Marais is terug in die politiek

Peter Marais, die flambojante Kaapse politikus wat hom al jare daarvoor beywer om die bruin agenda in die kollig te plaas, gaan hom voortaan daarop toespits om oudlede van die NNP by die DA weg te rokkel.

Jeffrey Donson, president van Icosa, Peter Marais, Alwina Abrahams en Dawid Kamfer. Foto: Verskaf

Die 70-jarige Marais het hom die naweek by die Independent Civic Organisation of SA (Icosa) aangesluit nadat dié party al jare aan hom sit om hom by hulle aan te sluit.

Hy sal ’n meer adviserende rol speel, maar ook die party se voorsitter in die Kaapse metroraad wees, sê hy.

“Ná al die jare sien ek steeds kans om die groot kokkedore in die politieke arena – soos Mmusi Maimane, Helen Zille en Julius Malema, en natuurlik dié in die ANC – aan te vat omdat hulle ons bruin mense se pleidooie al te lank ignoreer.”

Marais, ’n gesoute politikus, sê hy slyp reeds sy tande om die “kapokhaantjies, wat nou maak asof hulle die Kaapse metroraad besit,” in die debatte bloedneus te gee.

Marais het al ’n wye draai in die politiek geloop en sê skertsend hy “het al oral, behalwe as die president van die land, gedien”.

In die apartheidsera was hy onder meer lid van die Huis van Verteenwoordigers van die destydse driekamerparlement. Hy was ook ’n DA-burgemeester van Kaapstad en die NNP-premier van die Wes-Kaap.

Ek het Icosa nie gekies nie, die party het my gekies.

Hy meen daar is nou uiteindelik ook ’n derde mag wat ’n rol in die politieke arena in die Wes-Kaap sal speel: Dit is die bruin volk, wat naas die swart en wit mense sy stem gaan dik maak.

“Ons tyd het aangebreek om as derde mag te dien in veral die Wes- en Noord-Kaap, waar ons immers in die meerderheid is.”

Marais sê Icosa het hom knaend gevra om hom by hulle aan te sluit. “Ek het al dikwels gesê nee, ek is klaar met die politiek. Maar dit raak duidelik dat die bruin mense van die provinsie altyd aan die kortste ent van die tou gaan trek as nie daadwerklik opgetree word nie.”

Hy sien nie eintlik meer mense wat bereid is om vir die bruin volk op te staan nie.

Peter Marais Foto: Jonathan Lestrade

“Ek het Icosa nie gekies nie, die party het my gekies.”

Volgens Marais is bruin nasionalisme nou eers besig om pos te vat in die provinsie.

“Ons mense was nog altyd so verdeeld, daarom het ek die Bruin Bewustheid Bond (BBB) gestig. Bruin mense is egter nou baie bewus van hul bruinwees en begin weier om as swart geklassifiseer te word.”

Marais sê diegene wat sê hulle is swart, skakel hulself eintlik uit, want dan glo hulle mos nie dat daar bruin mense is nie. Tegnies word bruin mense dan “onsigbaar”.

Volgens Marais is die dae dat bruin gemeenskappe onsigbaar is, nou verby.

Dawid Kamfer, Wes-Kaapse voorsitter van Icosa, sê ná maande se onderhandelinge het Marais hom Saterdag op ’n provinsiale vergadering van Icosa by die party aangesluit.

Kamfer, is vol vertroue dat Marais Icosa sal kan laat groei.

Meer oor:  Peter Marais  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.