Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Peter Marais: VF Plus staan vir alle minderhede

Peter Marais is Dinsdag as die VF Plus se Wes-Kaapse premierskandidaat aangewys. Philda Essop het met hom gesels.

Peter Marais tydens die Vryheidsfront Plus se aankondiging by die Parlement in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
U aansluiting by die VF Plus was ’n groot verrassing. Wat het daartoe gelei? Wie het eerste toenadering gesoek en wanneer het die “huwelik” plaasgevind?

Voor die 2014-verkiesing het dr. Pieter Mulder, voormalige VF Plus-leier, dr. Corné Mulder, dr. Pieter Groenewald, huidige leier, en André Fourie met my in my huis in Durbanville kom praat om hul premierskandidaat te wees.

Ek het vir hulle gesê julle wil met my trou, maar ek het nog nie my skoonfamilie ontmoet nie. Wie sê ek is vir hulle aanvaarbaar?

Ek het gesê tensy ek nie seker is dat die bedoeling toenadering op ’n breër vlak tusen bruin en wit Afrikaanses is nie, kan ek nie die aanbod aanvaar nie. Ek het dinge in hul beleid uitgewys waarmee ek nie akkoord gaan nie en ek het nee gesê.

Gesprekke tussen my en Corné het egter voortgegaan. Ek het die kwessie van armoede onder bruin mense onder die VF Plus se aandag gebring, asook dié van plaasarbeiders, vissermanne wat hul kwotas verloor het en gesê hulle sal moet belowe dat hulle dié goed met mening sal aanpak . . . Die VF Plus staan nou vir alle minderheidsgroepe, nie net vir Afrikaners nie . . .

Mense kan my vertrou. Ons in die VF Plus sal nie hand om die blaas met die EFF loop soos die DA nie.

Sommige mense sal sê dat die VF Plus ’n regse party is – wat is u reaksie hierop?

Wat is regs? As jy sê regs, moet jy sê die Amerikaanse president is ook regs. As jy sê regs moet jy sê die Skotte is regs omdat hulle ’n aparte staat wil hê en ook die Palestyne omdat hulle hul eie staat wil hê.

Regs in die ou terme het verwys na mense wat apartheid steun. Daardie reëlboek is oorgeskryf. Die Grondwet verbied enige beleid wat op rassediskriminasie gegrond is – of jy regs of links is – dieselfde reëls geld waarop jy jou politiek moet bedryf. Jy kan die Afrikaner uitskel van alles, maar jy kan nie sê hulle het niks gebou nie. Yskor, Denel, skole, hospitale, technikons en universiteite is gebou deur Afrikaners wat regs genoem word. En alles wat gebreek is, het hulle nie gebreek nie.

Is hierdie ’n opportunistiese skuif deur die VF Plus?

Nee, ek dink nie dis opportunisme nie, maar ’n groter bewuswording dat Afrikaanses ’n groter familie as Afrikaners is. Dit is ’n bewustheid wat sê die Afrikaner is maar een klein gedeelte van Afrikaanswees. Ek verwelkom dit, want dit is waarna ek nog altyd gehunker het. Die Xhosas en Zoeloes het baklei, maar hulle het vrede gemaak. Hoekom sal bruin en wit mekaar nie vind nie?

Wes-Kaapse kiesers het ’n wye verskeidenheid van politieke partye om van te kies – die meeste landwyd – waarom moet hulle vir die VF Plus stem?

Bestendigheid, goeie organisering, bekwaamheid van hul leiers. Die bruin mense het ’n verteenwoordiger in die Nasionale Vergadering nodig . . .

Hoe weet ons die party gaan na almal se behoeftes omsien?

Dit is waarom ek sê my vertroue om die woord van die VF Plus te aanvaar, is sedert 2014 opgebou. Dit is nie ’n shotgun-huwelik nie. Dit is nie ’n kwessie van dat jy nou moet trou omdat die vroutjie verwagtend is nie.

Ek het nie ’n behoefte om terug te kom na die politiek vir geldelike redes nie. Ek het nie ’n geldelike probleem of ’n behoefte aan publisiteit nie. Dit is nie waarna ek op soek is nie, maar die bruin mense het nie ’n geloofwaardige stem wat sy saak op die hoogste vlakke kan stel nie.

Onthou die Afrikaner en bruin mense is sedert 1994 geslaan – in die werkplek, met behuising – daar is nie huise vir ons mense gebou nie.

U gaan aktief aan die VF Plus se verkiesingsveldtog deelneem – hoe sal die mense u ontvang?

Ek gee nie om vir die ontvangs nie, ek het ’n saak om te stel. Selfs oudpres. Nelson Mandela het nie 100%-steun gehad nie. Niemand in die politiek het nie – pres. Donald Trump van Amerika het ook nie die meerderheidsteun nie.

Mense kan my vertrou. Ons in die VF Plus sal nie hand om die blaas met die EFF loop soos die DA nie. Ons kan nie die DA vertrou nie, hy is so magshonger hy is bereid om ’n alliansievennoot van die EFF te wees – wat hom in die verkeerde rigting gaan stuur. Ons kan die mense verseker die VF sal nooit met die ANC of die EFF ’n alliansie vorm nie.

In jou gesprekke met die Bruin-Belange-Beweging (BBB) oor jou planne om by die VF Plus aan te sluit, wat was hul reaksie?

Die BBB het geluister en gevra dat dr. Corné Mulder hulle toespreek. Die BBB se uitvoerende bestuur sal ook op die party se kandidaatlys geakkommodeer word.

U is 70 jaar oud, is dit nie tyd om u aftrede te geniet nie?

’n Mens kan aftree, maar jy hoef nie uit te tree nie. Solank as wat ek dieselfde belasting betaal as toe ek jonk was en sien my mense ly nog net so soos toe ek jonk was . . . En so lank as wat ek sien niemand tree vir hulle in die bres nie, sal ek net soos oudpres. Nelson Mandela ná 70 steeds bereid wees om ’n leierskapspos te beklee. Donald Trump is 74 en hy is ’n leier.

Wat is u mening oor die VF Plus se Slaan Terug-veldtog?

Ek dink dit was miskien net om aandag te trek, maar nou gaan ons verduidelik wat ons daarmee bedoel. Onthou die Afrikaner en bruin mense is sedert 1994 geslaan – in die werkplek, met behuising – daar is nie huise vir ons mense gebou nie. Die Wet op Gelyke Indiensneming het ons geslaan – ons kan nie bevordering kry nie. Die Afrikaner en bruin man se toekoms is so inmekaar verweef en verstrengel dat dit sal dom wees as hulle ooit mekaar se hande sal los.

Meer oor:  Peter Marais  |  Politiek  |  Premierskandidaat  |  Vf Plus  |  2019-Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.