Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Petrus wat by Uniegebou oor grond uitkamp, aangeval

Die Vrystater wat al van Maandag af by die Uniegebou in Pretoria wag om sy boodskap oor grondonteiening sonder vergoeding aan pres. Cyril Ramaphosa oor te dra is Dinsdagnag aangeval en met die dood gedreig.

Petrus Sito (38) was Woensdag baie emosioneel oor die gebeure van die afgelope paar dae.

Sito sê drie mans het hom aangeval en hy het aan hulle sy motor en geld aangebied, maar hulle het gesê dit is nie wat hulle wil hê nie.

“Jy moet ophou waarmee jy besig is, ons wil jou hê, nie jou geld nie,” het die aanvallers glo gesê.

Hulle wou ook by Sito weet aan watter politieke party hy behoort, maar Sito sê hy behoort nie aan enige party nie.

Sito sê die aanvallers het sy motor met klippe bestook en hy het na die polisielede wat die Uniegebou bewaak gevlug.

“Die polisie het my gehelp om ’n klag by Sunnyside se polisiekantoor te gaan indien,” sê Sito.

Sito het ’n memorandum wat hy aan Ramaphosa wil oorhandig en sê hy en baie ander swart mense is baie bekommerd oor die moontlikheid dat grond sonder vergoeding onteien kan word.

Sito sê hy het ook twee weke gelede ’n e-pos aan die president gestuur. Hy sê hy gaan by die Uniegebou bly totdat die regering na sy versoek luister.

Sito, ’n plaaskind van Bultfontein in die Vrystaat, sê hy ken boere. Hy was self ’n plaaswerker en het lank by ’n landboukoöperasie se onderdeleafdeling gewerk en sy ouers is plaaswerkers.

“Ek was by ’n sokkertoernooi by Bultfontein waar net swart mense was en hulle is almal baie bekommerd oor die regering se planne,” sê Sito.

“Die plaasmense sê hulle is bang oor wat kom. Hulle weet as boere hul plase verkoop hoe die werkers sukkel,” sê hy.

Sito het gevra dat Suid-Afrikaners vir hom bid.

Petrus Sito voor die standbeeld van Nelson Mandela by die Uniegebou waar hy sê hy gaan bly totdat pres. Cyril Ramaphosa sy memorandum ontvang het en hom geantwoord het.

Hier is Sito se memorandum:

Aan die president van Suid-Afrika,

pres. Ramaphosa

Geagte President,

U hou Suid-Afrika vas in kettings.

U wil die verkiesing wen en beskerm die ANC se belang ten koste van Suid-Afrika.

Daarom versoek ek die volgende:

1. Staak die proses van onteiening sonder vergoeding.

2. Die Grondwet mag nie verander word nie.

3. Grond mag nie onteien word sonder markwaardevergoeding nie.

4. U moet hierdie boodskap vir die mense van Suid-Afrika oordra.

5. U moet werk skep vir ons mense.

6. U moet die ekonomie laat groei sodat ons kan werk.

7. U moet na die ekonomiese uitkomste kyk en nie na die politieke uitkomste nie.

Ek rig hierdie versoek namens die mense wat hul werk verloor weens ANC-beleid.

U moet asseblief binne sewe dae reageer op my eise.

Ek bly hier en wag vir u antwoord.

Dankie

My naam is Petrus Sito van Bultfontein in die Vrystaat.

Meer oor:  Pretoria  |  Uniegebou  |  Grond  |  Grondonteiening  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.