Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Phosa aan ANC: Moenie stilbly oor Zuma nie!

Die voormalige ANC-tesourier-generaal Mathews Phosa het pres. Jacob Zuma gevra om uit te tree.

“Eerbare mense kan nie stil wees in die aangesig van die bose nie,” het hy aan die party se leierskap gesê.

“Stilte is ’n oogluikende toelating. Daarom praat ek.”

Dié voormalige premier van Mpumalanga was baie gewild op Twitter ná ’n opiniestuk wat hy geskryf het en wat in die Sunday Independent en op die Daily Maverick se webtuiste gepubliseer is.

In die stuk is Phosa baie krities teenoor die ANC ná die parlementsopening.

“Nou het ons ’n president wat bly wanneer ons vra dat hy moet loop. My pleidooi is steeds: Asseblief, dien vir een keer jou mense en gaan. Gaan nou. As jy nie gaan nie, sal die geskiedenis jou oordeel as die hoofargitek van die ANC se vernietiging.

“Ek verstaan dat dié woorde dalk my afdanking kan beteken. Ek weet dat ek nie die enigste is wat so voel nie. Ek weet daar is kabinetsministers en NUK-lede wat dieselfde voel. Ek moedig hulle weer aan om te praat. Vind jul innerlike stemme, vind jul trots, vind jul karakter en praat voor jul kinders en kleinkinders en die geskiedenis julle kwaai gaan oordeel omdat julle stilgebly het.”

Phosa het egter geweier om op navrae te reageer.

Maar ’n bron na aan hom het gesê: “Laat die mense pret hê daarmee . . . dit is tog waarom dit gepubliseer is.”

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Phosa skryf verder dat hy sy “Damaskus-oomblik” by die parlementsopening beleef het toe Baleka Mbete, speaker, “gevoelloos, koud en klinies geweier het dat die parlement hul hoofde buig om te wys dat hulle die pyn van die families van die 94 wat dood is omdat die regering anderpad gekyk het, voel”.

Die ANC-staatmaker het ná die onderbrekings deur die opposisiepartye, die beskuldigings van rassisme en die slinger van kragwoorde aan die opposisie gesê dat hy tot ’n punt gekom het dat hy weier om deel van die “intellektuele begrafnis van die ANC” te wees.

“Ek weier om met die sogenaamde leiers geassosieer te word wat op die mense wat vir hulle gestem het trap, wat nie die Grondwet respekteer nie, wie se voorspelbare reaksie op alle uitdagings altyd ‘rassisme’ is en wat bereid is om ons kinders se toekoms op te gee voor die troon van ’n man wat geen skaamte het nie en geen karakter toon nie.”

Phosa sê die DA was reg om die kwessie van die pasiënte wat in die Life-Esidimeni-tragedie dood is, te lug.

Daardie oomblik in die parlement toe ons, die ANC, geweier het om ons koppe te buig oor die dood van 94 weerlose burgers sal in die toekoms gesien word as ’n deurslaggewende oomblik wat die onsensitiewe, sorgelose brutaliteit van sommige leiers illustreer.
Mathews Phosa.

“Cope was reg om die president ’n skurk te noem, en die EFF was reg om die kwessie van nie-parlementêre sekuriteitspersoneel wat in die parlement teenwoordig was, te opper.”

Hy sê die ANC sal ’n wonderwerk moet beleef indien hy meer as 50% van die stemme in 2019 wil kry.

“Daardie oomblik in die parlement toe ons, die ANC, geweier het om ons koppe te buig oor die dood van 94 weerlose burgers sal in die toekoms gesien word as ’n deurslaggewende oomblik wat die onsensitiewe, sorgelose brutaliteit van sommige leiers illustreer.”

Phosa het gesê dat hy sal aanhou om ’n ANC-lid te wees, maar dat hy ’n beroep op die president doen om te bedank en dat ’n nuwe NUK gekies moet word.

“Ons kan nie die toekoms, en die onvermydelike, elke keer uitstel nie. Dit kom lafhartig voor en wys ’n tekort aan beslissende leierskap.”

City Press het verlede maand berig dat hy ’n verrassende boodskap van ondersteuning vir Phosa van Andile Lili, die Kaapstadse ANC-aktivis en ontlastinggooier, gekry het en dat Lili Phosa die “geloofwaardige” leier van die party genoem het.

Die koerant het berig dat Lili, wat ook die stigter van die Ses’khona People’s Rights-beweging is, gesê het dat die ANC-lede wat by Ses’khona betrokke is, hul gewig agter Phosa ingooi om die party te lei.

Die ANC sal sy verkiesingskonferensie in Desember hou.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, voormalige AU-voorsitter, en adjunkpresident Cyril Ramaphosa is van die kandidate.

Meer oor:  Mathews Phosa  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.