Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Phumzile het by die ry kom indruk’

Die gesin wat deur die DA-LP Phumzile van Damme van rassisme beskuldig is, ontken ten sterkste dat dit húlle was wat rassisties teenoor haar opgetree het in ’n stryery op 18 Junie by die V&A Waterfront in Kaapstad.

Sy was trouens die aggressor wat daarvan ’n “ras-ding” gemaak het voordat sy een lid van die gesin aangerand het, sê hulle.

Phumzile van Damme, DA-LP. Foto: Themba Makofane

Maar al is daar regsgronde om ’n strafregtelike klag teen Van Damme in te dien, kies die gesin eerder om laag te lê en die saak te laat vaar, want hulle vrees intimidasie as hulle teen Van Damme sou optree, het die gesin se advokaat, Carlo Viljoen, aan Rapport gesê.

Viljoen, van Melkbosstrand, het die afgelope week namens die gesin hul weergawe van gebeure daardie dag gegee.

Die gesin het die Dinsdag in Clicks inkopies gedoen en gewag om te betaal toe Van Damme na bewering voor hulle indruk in die ry.

“Toe die vrou beswaar maak, het sy (Van Damme) baie aggressief geraak,” sê Viljoen.

Volgens Viljoen het die gesin die winkel verlaat en nie beplan om enigiets vir Van Damme te sê nie, maar sy het hulle na buite gevolg en die gesin begin beledig. Die seun het toe besluit om “vir sy ma op te staan”.

Die beste manier om te reageer is om te versoen...

Viljoen sê die seun het niks van “kleur of ras” gesê nie – toe klap Van Damme hom “sonder wettige rede”.

Volgens Viljoen het die gesin “regsgronde” vir ’n saak teen Van Damme, maar dit sal te veel aandag op hulle vestig en hul name sal in al die koerante wees.

“My kliënte het geen wet oortree of iemand te na gekom nie. Hulle is die slagoffers van ’n rassistiese aanval en van aanranding,” sê Viljoen.

Van Damme het op die dag van die voorval die gesin op Twitter – waar sy 100 000 volgelinge het – van rassisme beskuldig en gesê sy het die seun “uit selfverdediging” met die vuis teen die kop geslaan.

In ’n video van haar gesprek met ’n veiligheidsbeampte by die Waterfront het Van Damme gesê die vrou het haar “dreigend” aangekyk.

“Ek het na haar gegaan en gevra hoekom kyk sy dreigend na my. Toe sê sy ‘dis omdat jy swart is’. Toe het haar seun gekom en ‘voertsek’ in my gesig gesê. Ek het gevra wat gee hom die reg om dit te sê. Hy het gesê dit is omdat ek swart is.”

Van Damme het ook ’n foto van die gesin getwiet en bygevoeg die jong man het haar selfoon glo uit haar hand gestamp. “Hy het my met geweld gedreig. Ek het hom uit selfverdediging met die vuis teen die kop geslaan.”

Van Damme het ná die voorval aan The Sowetan gesê die voorval het in Clicks begin toe iemand aan haar gestamp het en nie verskoning wou vra nie.

Van Damme het toe die vrou buite die winkel gekonfronteer, waarna die vrou glo aggressief geraak het.

Sy het gesê sy wou met regstappe voortgaan, maar wis ook nie wie die gesin is nie.

Die Waterfront het geweier om hul video-opnames van die voorval aan Rapport beskikbaar te stel.

Mmusi Maimane, DA-leier, het ná die voorval by die staatsrede na Van Damme gekap.

“Ek is altyd spyt oor rassistiese voorvalle, en ek veroordeel rassisme, maar die beste manier om te reageer is om te versoen,” het Maimane gesê ná ’n vraag oor die voorval waarby Van Damme betrokke was.

Van Damme het nie op navrae gereageer nie en het in ’n vorige antwoord gesê Rapport word deur haar vyande in die party “gebruik”.

Meer oor:  Phumzile Van Damme  |  Mmusi Mai­Mane  |  Carlo Viljoen  |  V&A Waterfront  |  Da  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.