Die Regterlike Dienskommissie het ’n kortlys van kandidate bekend gestel wat in howe oor die land heen kan dien.
Een van die kandidate is regter Dhaya Pillay, wat op die kortlys is om in die konstitusionele hof te dien.
Pillay is die voorsittende regter in die korrupsieverhoor van oudpres. Jacob Zuma in die hooggeregshof in Pietermaritzburg waar sy opslae gemaak het deur ’n lasbrief uit te reik vir die inhegtenisneming van die voormalige president.
Sy was verlede jaar op die kortlys en is ’n meester in arbeidsregsake en ook een van die skrywers van die Wet op Arbeidsreg.
Met ’n lang loopbaan as ’n anti-apartheidsaktivis het Pillay in die 1980’s gedien as ’n prokureur vir die menseregteprokureur Yunus Mohamed.
Pillay sê nog altyd haar politieke standpunte het nog nooit ingemeng met haar vermoëns om uitspraak te lewer nie.
Nog ’n kandidaat op dié lys is regter Narandran Jody Kollapen, wat vroeër hoof van die Menseregtekommissie was.
Regter Mahube Molemela is ook op die kortlys om in die konstitusionele hof te dien. Regter Molemela het al verskeie hoëprofielsake gehanteer insluitend die beslissing aan die vooraand van die ANC se Nasrec-konferensie dat die Vrystaatse provinsiale komitee en verskeie ANC-takke nie kan deelneem nie.
Die volgende ronde onderhoude word van 20 tot 24 April gehou.