Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plaaslike regering se grense moet verskuif, sê Hill-Lewis aan persklub
Geordin Hill-Lewis, burgemeesterskandidaat, spreek DA-ondersteuners toe in Observatory, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Of dit nou met gehaltedienslewering of die afrokkel van magte van die nasionale regering te make het, moet Kaapstad die leiding neem om die “grense van plaaslike regering te verskuif”.

Geordin Hill-Lewis, die DA se burgemeesterskandidaat, sê dit gaan noodsaaklik wees om ’n einde te maak aan beurtkrag en om bekostigbare behuising te help verskaf sodat die Moederstad sy “regmatige plek” as wêreldstad kan neem.

Hill-Lewis het Dinsdag die Kaapstad-persklub vir die eerste keer toegespreek en gepraat oor sy visie vir die stad as sy party in die komende verkiesings wen.

Hy het ook die digitalisering van die metro se dienste beloof, asook om groter toegang tot openbare deelname met die hulp van tegnologie te bied.

Verder sal klem geplaas word daarop om die metro se magte uit te brei om meer beheer oor kragopwekking en veiligheid te hê, terwyl druk op die nasionale regering verskerp sal word om staatsgrond beskikbaar te stel.

“So, wat het ’n millenniër met ’n van wat snaaks klink, en wat in Edgemead grootgeword het, oortuig om vir burgemeester te staan?

“Die kort antwoord is dat ek tydens die staat van inperking besef het die DA sal veel meer moet doen om Kaapstad se toekoms te beveilig teen die verbrokkelig van die nasionale regering.”

Hill-Lewis (34) is tans ’n LP en die DA se woordvoerder oor finansies in die parlement.

Hy het ’n meestersgraad in ekonomiese beleid aan die Universiteit van Londen verwerf en beskryf homself as moontlik die jongste burgemeesterskandidaat in die stad se geskiedenis.

Nou die tyd om af te wentel

Volgens Hill-Lewis is daar tans in die land se politieke geskiedenis ’n ongekende potensiaal om die grondwetlike demokrasie op ’n “meer volhoubare pad” te plaas deur magte af te wentel van die nasionale regering af.

“Van misdaad tot werkloosheid en die ineenstorting van infrastruktuur, is daar geen tekort aan redes vir Suid-Afrikaners om uiters bekommerd oor die toekoms van hul families en gemeenskappe te wees nie.

Hy het ook daarop gewys dat Kapenaars die DA al die afgelope 15 jaar met die leisels in die metro vertrou.

Intussen bly die nasionale regering verantwoordelik vir kragopwekking, treindienste en polisiëring aan die hand van die huidige wetsraamwerk.

John Steenhuisen, DA-leier, staan Dinsdag met ’n plakkaat van Geordin Hill-Lewis vir die komende plaaslike verkiesings. Foto: Jaco Marais

Hill-Lewis sê daar is bewyse dat die nasionale regering “aktief en deurlopend” die DA-beheerde metro se pogings om dié dienste te lewer, in die wiele ry.

Daarom sê hy die metro moet “opstaan teen Pretoria” en die afwentel van magte opdwing sodat hy meer van die dienste self kan lewer.

“Ek is oortuig dat die afwentel van funksies soos kragopwekking, openbare vervoer en polisiëring die volgende grensverskuiwing in Suid-Afrika se demokratiese ontwikkeling is.

“En Kaapstad moet dié opmars lei.”

Gehaltedienste beloof

Dienste soos riool, vullisverwydering en die instandhouding van paaie en straatligte is van die dienste wat noodsaaklik is om ’n waardige lewe vir alle inwoners te verseker, sê Hill-Lewis.

Dit bly die mandaat van plaaslike regerings en om gehaltedienste te lewer is ’n skoon regering nodig “wat nie die hulpbronne steel waarmee dié dienste gelewer moet word nie”.

Hy het benadruk dat die Moederstad “kop en skouers bo die res uitstaan” met 99% van inwoners wie se vullis weekliks verwyder word, 93% met toegang tot krag en byna 92% met toegang tot sanitasie.

Daarby bestee die metro R2,9 miljard per jaar aan gratis basiese dienste vir behoeftige inwoners, luidens sy toespraak.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, staan voor plakkate vir Geordin Hill-Lewis se veldtog as die DA se burgemeesterskandidaat. Foto: Jaco Marais

Hill-Lewis beloof groter beleggings in basiese dienste om die agterstand met die lewering van infrastruktuur uit te wis

Dit is egter nie genoeg om die begroting te herprioritiseer nie en die metro se kontrakbestuur gaan ook hersien moet word sodat dienslewering nie ontwrig raak wanneer kontrakte verval nie.

Digitalisering

Basiese dienslewering in Suid-Afrika bied verder ’n gulde geleentheid om deur digitalisering verbeter te word en die wyse waarop mense met hul munisipaliteit in verbinding tree te verander.

Indien hy verkies word, beloof Hill-Lewis om die stelsel waarop klagtes aangemeld word, te omskep in ’n gebruikersvriendelike app wat op slimfone beskikbaar is.

“Die DA in Kaapstad is ook gereed om openbare deelname en plaaslike demokrasie aanlyn te vat, deur enigiemand met ’n selfoon in staat te stel om deel te neem aan die metro se prosesse vir beplanning en begroting.”

Hy wil ook toesien dat rye vir dienste, soos om motorlisensies te hernu of afsprake te maak, sover moontlik uitgewis word.

“Kaapstad se ekonomie verloor duisende ure elke week weens mense wat onnodig in toue staan.”

Sakevriendelike stad

In ’n land waar vier uit vyf jong mense nie werk kan vind nie, moet daar meer gedoen word om beleggings te lok en entrepreneurs te bemagtig, volgens Hill-Lewis.

Geordin Hill-Lewis staan met sy plakkaat vir die komende plaaslike verkiesings. Foto: Jaco Marais

Met die talent en hulpbronne tot sy beskikking moet Kaapstad stede soos Nairobi en Kigali verbysteek op die Wêreldbank se indeks van hoe maklik dit is om sake te doen.

Hy sê die indeks wys tans dat dit ’n gemiddeld van 88 dae neem vir ’n boupermit, 37 dae om bouplanne goed te keur en tot 97 dae vir ’n nuwe kragverbinding.

“Dit is hoekom ek reeds verbind is daartoe om Kaapstad die mees entrepreneur-vriendelike stad op die hele vasteland te maak.”

Hy sê ook die DA is die enigste party wat daarin glo om mense te bemagtig deur hul eie huise te besit.

“Daarom wil ek sien hoe hyskrane orals oor leë stukke staatsgrond opgaan. Ons stad moet een groot bouperseel word waar ons gedeelde welvaart bou.”

As iemand wat voorheen ’n vennoot in ’n klein eiendomsonderneming was, sê Hill-Lewis hy het eerstehandse ervaring van die uitdagings om selfs klein projekte vir behuising aan die gang te kry.

Meer oor:  Geordin Hill-Lewis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.