Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plan in Wes-Kaap na 30 polisiegebiede uitgebrei

Misdaadbestryding by 30 polisiekantore wat die hoogste misdaadsyfers het, gaan oor die volgende paar maande tot die hoogste vlak verskerp word met gespesialiseerde polisie-eenhede wat daar, soos op die Kaapse Vlakte, ontplooi sal word.

Só het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdagmiddag gesê toe hy die Nasionale Raad van Provinsies oor sy begrotingsrede by die parlement toegespreek het.

Bheki CeleFoto: MELINDA STUURMAN

Volgens Cele gaan dié 30 polisiegebiede landwyd verbeterde hulpbronne kry en uitgebreide ontplooiings word as ’n prioriteit beskou.

“Lede van die tegniese reaksie-eenheid, of ‘Amabharete’, sowel as van die nasionale ingrypingseenheid sal in die gebiede ontplooi word. Hulle kan nie langer binnenshuis gehou word terwyl ons gemeenskappe onder beleg is nie.”

Volgens Cele sal polisiebasiskampe as ’n onmiddellike reaksie binne die volgende paar maande in elk van die 30 misdaadbrandpunte gestig word, met bykomende hulpbronne om dit te ondersteun.

“Provinsiale polisiekommissarisse is ook opdrag gegee om weekliks met misdaadbestrydingstrategieë vorendag te kom in ooreenstemming met die ingrypingsoperasies.”

Cele het bygevoeg dat soortgelyke intelligensiegedrewe operasies, wat vroeër reeds in verskeie provinsies geïmplementeer is, reeds gelei het tot die inhegtenisneming, vervolging en vonnis van talle verdagtes in politieke moorde in KwaZulu-Natal.

Dit het ook gelei tot die drastiese afname in transitorooftogte met die inhegtenisneming van verdagtes in Gauteng.

Gespesialiseerde reaksie-spanne is volgens Cele ook reeds in Mamelodi en Westbury in Gauteng, sowel as deur Operasie Thunder op die Kaapse Vlakte in Kaapstad ontplooi. “Die doel daarvan is om oorlog teen misdaad te verklaar en om die gesag van die staat weer af te dwing.

“In reaksie op die euwel van bendes landwyd sal die teenbende-eenheid nou tot ’n nasionale eenheid saam met ander gespesialiseerde eenhede opgegradeer word.

“Die operasie met die weermag in die Wes-Kaap wat op 11 Julie aangekondig is, word tans in alle misdaadbrandpunte op die Kaapse Vlakte en in berugte townships ingestel.”

Misdaad sal net begin afneem sodra mense beter lewe
Bheki Cele, minister van polisie.

Volgens hom sal dit daartoe lei dat die Wes-Kaap weer “regeerbaar” word.

“Ons sal nie ’n kriminele onderwêreld met hul eie republiek in dié land hê nie. Regerings word verkies en neem nie net oor nie. Ons sal geen parallelle-regering hier duld nie.”

Cele sê die polisie is ook hoogs tevrede met die aktiewe gemeenskapsdeelname aan hierdie operasie.

“En die operasie lewer resultate. Vier weke gelede is 77 mense in ’n naweek in die Kaap vermoor. Dit was verskriklik baie.

“Die week daarna is 54 mense in ’n naweek vermoor. Verlede naweek is 43 mense vermoor en die afgelope naweek 25. Ons sal binnekort ’n naweek hê waarin geen mense hier vermoor word nie. Ons gaan dit bereik.”

Cele het bygevoeg dat die polisie alleen nie misdaad landwyd sal kan beveg nie omdat gebrekkige stadsbeplanning en veral informele nedersettings in die grootste stede ’n hoofbydraer tot misdaad is.

“Ek was gisteraand in die Strand, Crossroads en Browns Farm in Kaapstad, waar dit so donker is dat mens nie sien waarheen jy gaan nie.

“Plaaslike regerings moet daarom saam met die polisie werk deur straatligte en kameras in sulke gemeenskappe te installeer.

“Bou huise en paaie sodat mense nie meer soos varke hoef te leef nie. Verskaf ’n huisnommer sodat die polisie vinniger kan reageer.

“Misdaad sal net begin afneem sodra mense beter lewe,” het Cele gesê.

Meer oor:  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.