Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Plan teen plaasmoorde is goed, hulpbronne kort’

Die bekamping van haatspraak en stereotipering van boere, spesialiseenhede teen plaasaanvalle en gereelde misdaadstatistieke is van die voorstelle wat AfriForum op ’n virtuele werksessie gemaak het om plaasmoorde te bekamp.

Die organisasie sê in ’n mediaverklaring hy het die regering op die werksessie gevra om tien stappe te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, het in sy voorlegging gevra dat plaasmoorde as ’n unieke misdaad beskou moet word.

Ook dat die regering die erns van die krisis moet erken, onafhanklike navorsing moet doen om die omvang van die krisis te bepaal en dat alle plaasaanvalle deur die Valke ondersoek word.

Roets het ook gevra dat plaaslike gemeenskappe meer betrokke moet wees by die regering se veiligheidstrukture, soos wat destyds met die kommandostelsel die geval was.

Daar moet ook ’n vennootskap tussen die polisie en die burgerlike samelewing wees om so die polisie se reaksie op plaasaanvalle te versterk.

Hy sê ook die Nasionale Strategie vir Landelike Veiligheid moet hersien word sodat daar ’n meer gefokusde reaksie kan wees.

AfriForum wil hê dat daar spesialiseenhede gestig word om landelike veiligheid te verseker, dat slagoffers deur die hele proses ondersteun word en dat daar meer wetgewing moet wees vir die kriminalisering van haatspraak wat geweld teen boere aanhits of verromantiseer.

Tommy Esterhuyse, adjunkpresident van Vrystaat Landbou (VL), sê dit help nie om die wiel te wil herontwerp nie.

“Die bestaande veiligheidsplan is goed, ons probleem is dat dit nie inwerking gestel word nie,” sê hy.

“Ons moet druk toepas sodat die regering dít wat reeds bestaan, toepas.”

Hy sê die grootste probleem is ’n tekort aan hulpbronne en infrastruktuur.

Dit is ook nodig dat almal wat ’n belang het by landelike veiligheid saamwerk en betrokke is by misdaadbekamping.

Hy stem saam dat haatspraak ’n probleem is en sê dit is tyd dat die politici deel van die oplossing word en nie deel van die probleem is nie.

Herkie Viljoen, veiligheidsverteenwoordiger in die Oos-Vrystaat, sê polisielede op grondvlak het nie voertuie nie en daar is ’n groot personeeltekort.

Nie net plaasmoorde nie, maar alle misdaad is ’n groot probleem.

Meer oor:  Afriforum  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.