Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Planne met infrastruktuur ‘beslis nie lugkastele’

Die regering se ambisieuse infrastruktuurplan van honderde miljard rande om ná die Covid-19-pandemie nuwe lewe in Suid-Afrika se sukkelende ekonomie te blaas, “is nie lugkastele nie”.

So het dr. Kgosientso Ramokgopa, hoof van infrastruktuur en beleggings in die presidensie, Woensdag gesê om LP’s te oortuig om dit te ondersteun. Hy het saam met Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, voor die parlement se verkose komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie, openbare werke en infrastruktuur verskyn.

Patricia de Lille. Foto: Adrian de Kock

Ramokgopa sê dit is ver van die waarheid dat die infrastruktuurplan – waarvoor R340 miljard se beleggings van die private sektor bekom is – lugkastele is. Sommige LP’s het dit as sodanig beskryf.

“Van die projekte sal in September vanjaar al bekend gestel word.

“Daaronder sal die grootste postapartheid- menslike nedersetting in die land wees. Dit sal ’n ontwikkeling van 45 000 eenhede wees wat gebou gaan word in Mooikloof, naas Waterkloof die mees gesogte adres in Tshwane.

“Al die beplanning daarvoor is reeds gedoen en die private sektor, en nié die regering nie, gee die geld daarvoor. Al wat ons moes doen, is om die grond van die Tshwane-metro te kry en die grootmaatdienste aan te lê sodat die projek kan begin.”

Ramokgopa het bygevoeg dat die “geld ook reeds op die tafel is” vir die meeste van die ander behuisingsprojekte wat oor die land heen beplan word.

“Dan is daar ook nasionale padprojekte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral). Sanral het reeds die tegniese ontwerpe daarvoor gedoen. Dit sluit in die bou van nuwe wisselaars op nasionale paaie. Die tenders is reeds uit. Ons wag nou net vir die tesourie vir die nodige waarborge.

“So daar is nie so iets soos lugkastele wat met die infrastruktuurplan gebou word nie. Dinge is op grondvlak aan die gebeur. Dit is nie net retoriek nie. Dít is die punt wat ek wil maak.”

Ons moet die dorpsbeplanning van apartheid verander en begin kyk hoe ons ons stede kan integreer.

De Lille het bygevoeg dat daar vir die eerste fase van die plan sowat 62 uit 276 volhoubare infrastruktuurprojekte landwyd – in stedelike en landelike gebiede – geïdentifiseer is. Bouwerk sal binnekort kan begin.

“Ek moet sê dit is ’n baie ambisieuse plan wat ons aanpak. Dit is die heel eerste van dié aard in die land en ons sal almal saam leer.”

Volgens haar het pres. Cyril Ramaphosa duidelike teikens vir lewering vir die projekte gestel, terwyl hy ook gevra het dat daar te alle tye deursigtigheid in die implementering moet wees.

“Ons het egter besef dat die staat nie alleen die projekte kan verwesenlik nie en dat ons die private sektor as vennote moet betrek.”

Sy het bygevoeg dat transformasie en geregtigheid rondom dorpsbeplanning sentraal in die infrastruktuurplan sal staan.

“Ons moet die dorpsbeplanning van apartheid verander en begin kyk hoe ons ons stede kan integreer.

“Ons wil deur die plan ook werk skep en mense nuwe vaardighede leer.”

Meer oor:  Sanral  |  Covid-19  |  Patricia De Lille  |  Behuising  |  Infrastruktuur  |  Projekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.