Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Planne vir ondersoek na ‘Sassa-bedrog’ vorder glo

Planne is in ’n “gevorderde stadium” vir ’n forensiese ondersoek na alle bewerings van korrupsie by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Donderdag dié ondersoek by monde van haar woordvoerder, Thulisile Nhlapo, bevestig.

Dit was in reaksie op ’n verklaring wat Bridget Masango, DA-LP, Woensdag uitgereik het, waarin sy sê dat Sassa-amptenare “opdrag gegee is om bedrog in hul aansoekstelsel te pleeg” deur aan te dui dat biometriese toetse op en identifikasie van nuwe aansoekers gedoen is, terwyl dié inligting nooit vasgelê is nie.

Daar is geen manier waarop die stelsel omseil of bedrieg kan word nie.

Die staatsdiensvakbond PSA het ’n soortgelyke bewering in ’n mediaverklaring gemaak wat op dieselfde dag uitgereik is.

Die vakbond het gewaarsku dat aansoekers vir maatskaplike toelaes dit nie sal ontvang nie omdat die stelsel hulle nie as begunstigdes sal eien nie. Dit is omdat die stelsel die aansoek as onvolledig sal beskou. Die PSA het Sassa deur middel van sy regspan onder meer ingelig dat ’n gesloer om die kwessie op te los ’n risiko vir sy lede inhou – soos onlangs met die gyselaarsituasie in die Tembisa- en Soweto-kantore gesien is.

Masango het daarop gewys dat Sassa homself en die begunstigdes van staatstoelaes aan potensiële bedrog deur opportunistiese misdadigers blootstel deur nie die biometriese data vas te lê nie, en erger nog, is die moontlikheid dat nuwe aansoekers uit hul toelaes “verneuk” kan word.

“Die DA sal vra dat die minister dringend moet bevestig dat dit die geval is en indien dit wel so is, hoe daar opgetree gaan word om te verseker dat die begunstigdes en Sassa nie bedrieg word nie,” lui Masango se verklaring.

Nhlapo het in reaksie gesê ’n begunstigde kan deur middel van biometriese inligting of ID identifiseer word.

“Daar is geen manier waarop die stelsel omseil of bedrieg kan word nie,” het sy gesê.

Volgens haar het die minister al in Julie haar kommer oor bedrog “deur Sassa amptenare en eksterne magte” geopper.

Nhlapo het gesê sy het al in die media gesê dat ’n forensiese ondersoek gedoen sal word na “alle korrupte aktiwiteite wat met Sassa en diegene verband hou wat vasbeslote is om die oorgang vanaf Cash Paymaster Services (CPS) na die Suid-Afrikaanse Poskantoor te vertraag”.

“Die minister was sedert Julie – toe Sassa grootskaalse tegniese probleme ondervind het wat tot groot vertragings in die betaling van maatskaplike toelaes aanleiding gegee – in gesprek met begunstigdes om na hul bekommernisse te luister. Sy het die begunstigdes verseker dat sy gou agter die kap van die byl oor alle bedrieglike aktiwiteite wil kom.”

Meer oor:  Sassa  |  Susan Shabangu  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.