Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plase: Cele sê optrede kom
bheki cele, brendin horner
Bheki Cele (links), minister van polisie, en Ayanda Dlodlo (heel regs), minister van staatsveiligheid, op hul besoek Dinsdag aan die gesin van die ver-moorde plaasvoorman Brendin Horner (22). Van links is Gilly Scheepers, Horner se werkgewer, Robbie Horner, sy pa, Lenize Taljaard (staande), sy vriendin aan wie hy beplan het om verloof te raak, en Mietjie Horner, sy ma. Foto: Lirandzu Themba/Twitter

Bheki Cele, minister van polisie, het optrede teen misdaad op plase beloof nadat boere aangevoer het niks word aan hul klagtes gedoen nie.

Cele en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, het Dinsdag in Bethlehem met afgevaardigdes van georganiseerde landbou en plaaslike gemeenskapsverteenwoordigers vergader.

“Dit is nie ’n ras-ding nie, dit is ’n boerdery-ding,” is die boodskap wat boere aan hom wou oordra.

Cele het vroeër die dag die ouers van Brendin Horner (22), ’n plaasvoorman wat onlangs vermoor is, besoek.

Boere het verlede week by die hof in Senekal betoog toe Horner se twee vermeende moordenaars verskyn het.

Boere het daarna ’n misdaadverslag aan Cele gestuur.

Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging, het verlede week gesê hulle sal die verslag aan die Verenigde Nasies voorlê as Cele nie daarop ag slaan nie.

Viljoen het Dinsdag gesê boere is kwaad omdat hulle tragiese voorvalle soos die moord op Horner­ voorspel het.

Brendin Horner

Hy sê die boere se misdaadverslag raak 500 boere, maar niks het verander nadat dit ingedien is nie. Hy sê boere in die gebied verloor R1 miljoen se vee per maand.

Hoewel Cele gesê het hy is nie daar weens Viljoen se ultimatum nie, meen landbouleiers die protesoptrede in Senekal het die regering aangespoor om daadwerklik aandag te gee aan die kwessie van plaasaanvalle.

Tommie Esterhuyse, hoof van Agri SA se veiligheidsentrum, meen dit is jammer dat sulke radikale optrede nodig was.

’n Mens sien Horner se geliefdes se pyn

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê ook hy twyfel nie dat die Senekal-voorval die regering aangespoor het om nou na boere se klagtes te luister.

Groenewald en Esterhuyse sê niemand keur geweld goed nie en dit is jammer dat die samekoms in Senekal daarop uitgeloop het.

Viljoen wou ook by Cele weet hoe dit moontlik is dat een van Horner se vermeende moordenaars na bewering ’n bekende misdadiger is, maar steeds op vrye voet was.

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het vroeër bevestig een van die verdagtes is reeds 16 keer vantevore in hegtenis geneem en vier keer gevonnis.

Boere Dinsdag in die stampvol Meets-boeresaal. Foto: Mlungisi Louw

Cele sê hy het dieselfde vrae en lê die probleem voor die deur van ’n “wanfunksionele strafregstelsel”. Volgens hom is die ander beskuldigde al twee keer vantevore in hegtenis geneem.

“Ek sal wil weet waarom ’n mens wat al 16 keer vantevore in hegtenis geneem is, nog ’n kans gegee word om nog misdaad te pleeg. Dit is van die dinge waaraan ons almal as ’n groepering (die strafregstelsel) sal moet werk.”

Cele sê mense dink politici is klippe, maar dit is ook vir hulle moeilik.

Hy sê ’n mens kan sien Horner se ma, Mietjie, kry baie swaar.

“ ’n Mens sien Horner se geliefdes se pyn.”

Dit is nie ’n ras-ding nie, dit is ’n boerdery-ding.

Hy het weer ontken dat hy voorheen gesê het boere moenie kla as hulle seerkry nie.

Hy sê mense sê hy moet om verskoning vra daarvoor, maar hy kan nie om verskoning vra vir iets wat hy nie gesê het nie.

Cele het op Dinsdag se vergadering onderneem om oor drie weke­ weer in die Vrystaat besoek af te lê om te sien watter vordering daar gemaak is in misdaadbekamping en veral die stryd teen veediewe.

Die meeste boere is versigtig optimisties en voel die vergadering het goed afgeloop.

Groenewald en ander land­bouleiers raai mense af om AfriForum­ se beplande byeenkoms Vrydag in Senekal by te woon.

Daar bestaan tans landwyd kommer dat die optog tot geweld kan lei omdat die EFF dieselfde dag in Senekal wil saamtrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.