Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plase vir dooies

Derduisende begunstigdes van die staat se grondhervormingsprogramme was nog nooit op ’n plaas nie, weet nie eens hulle besit nou plase nie of was reeds dood toe hulle eienaars geword het, het ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) bevind.

Ayanda Bonga en sy pa, Simon, het albei op die Tangeni-plaas grootgeword. Die staat het die plaas teruggevat nadat bevind is dat die begunstigdes van die Tangeni Land Trust – waarvan hulle lede is – dit op bedrieglike wyse bekom het. Foto’s: Elizabeth Sejake

In baie gevalle het amptenare van die departement van grondhervorming plase vir hulself of familie en vriende toegeëien en is aansoekvorms nie eens volledig ingevul nie.

Ten spyte van die feit dat die departement al agt jaar lank van die omvattende bedrog bewus is, en al het pres. Cyril Ramaphosa die volledige ondersoekverslag 11 maande gelede reeds ontvang, het daar nog byna niks gekom van die dringende aanbeveling om 43 sake strafregtelik te vervolg en teen 23 amptenare op te tree nie.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het nie op herhaaldelike navrae van Rapport gereageer nie. Hy het aan Business Day gesê die meeste sake word nog ondersoek.

Die departement het Vrydag – sewe jaar en 11 maande nadat die ondersoek begin is – gesê net een amptenaar is vervolg. In die meeste gevalle het die amptenare afgetree of aanbeweeg voordat hulle dissiplinêr vervolg kon word. Een was “te siek” om dissiplinêr verhoor te word en in vyf gevalle het die departement gemeen hulle het nie “jurisdiksie” oor hul eie werknemers nie.

‘Die grond behoort aan ons.’

Phuti Mabelebele, woordvoerder van die departement, meen die departement het regtig erns gemaak met die bevindings van wydverspreide korrupsie en ’n skokkende gebrek aan beheermaatreëls.

“ ’n Totaal van 58 plase ter waarde van R150 miljoen is teruggegee aan die staat en ’n verdere 37 is onder kuratorskap terwyl die sake ondersoek word,” sê Mabelebele.

Die plase is teruggeneem nadat die batebeslagleggingseenheid van die NVG bewys het dit is op korrupte wyse bekom.

Maar Rapport kon vasstel dat dié “suksesse” om plase terug te neem in sommige gevalle net tot verdere ongerymdhede en onbeholpenheid gelei het.

Een so ’n geval is die Tangeni-plaas naby Dundee in KwaZulu-Natal.

Die eens produktiewe Tangeni-plaas is nou heeltemal vervalle.

Dit is in 2015 aan die staat oorgedra nadat die SOE bevind het daar was bedrog en korrupsie in die aankoop van die plaas vir R23 miljoen vir die Tangeni Land Trust.

’n Groot deel van die plaas is heeltemal vervalle.

Kantore, ’n weegbrug vir vragvoertuie, voerhokke, skure en werkswinkels is stuk-stuk weggedra en slegs ’n paar baksteenmure staan nog op die terrein.

Ander dele van die plaas word teen R62 500 per maand gehuur van die einste mense wat die SOE bevind het deur korrupsie en bedrog die eienaars geword het.

Ayanda Bonga (33), voorsitter van die Tangeni Land Trust, het aan Rapport bevestig hy kry maandeliks die huurgeld. Hy beweer die regering, wat die regmatige eienaar van die plaas is, is bewus daarvan.

“Die grond behoort aan ons, al het ons nie die dokumente nie. Ons het nooit iets verkeerds gedoen nie.

“Dit is mense met bande met politici wat agter dit alles sit. Hulle het al verskeie kere probeer om ons van ons grond af te gooi, maar ons laat dit nie toe nie. Ons vertrou niemand nie.”

Buite sy dubbelverdiepinghuis staan verskeie karre, waaronder ’n Toyota Fortuner.

Bonga het met Rapport se besoek ’n vuurwapen aan sy sy gedra.

Intussen krepeer die “begunstigdes” van die Tangeni Land Trust. ’n Lid van die gemeenskap van 16 gesinne wat daar woon, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê hulle oorleef danksy vroue wat marog pluk in die veld.

“Daar is destyds beloftes aan ons gemaak dat die plase aan die werkers oorgedra sou word. Ons moes ons ID-dokumente indien om as begunstigdes aangestel te word en om subsidies te ontvang om die grond te koop. Ons het nooit ’n sent gesien nie.”

Hy het alle navrae oor waarheen die huurgeld gaan na Bonga verwys.

Luidens die SOE se verslag het die bedrogspul met Tangeni begin toe die vorige eienaar, Gert Ehlers, sy plaas aan die regering wou verkoop “op voorwaarde dat sy plaaswerkers begunstigdes is”.

Hy was luidens die verslag betrokke by die stigting van die Tangeni Land Trust en het met Thembisile Mhlanzi, ’n amptenaar van die departement, saamgewerk om 122 name bymekaar te maak om ’n trust te stig en die grond te koop.

Die SOE het bevind die meeste van dié begunstigdes het tydens hul ondersoek nie eens besef hulle is nou eienaars van die plaas nie. Baie van hulle was nog nooit daar nie, sommige het ook ander plase ontvang en 27 van hulle was van een familie – die Khuzwayo-familie wat nog nooit daar gewoon of gewerk het nie.

Die begunstigdes het meer as R27 miljoen ontvang, wat genoeg was vir die koopprys van R23 miljoen plus nog R4 miljoen om die boerdery aan die gang te kry.

Die SOE sê Ehlers het die de facto-eienaar gebly en sy ooreenkomste met die trust is nooit geopenbaar nie.

Mhlanzi het by navraag enige ongerymdhede ontken. Sy het intussen bedank en daar is nooit teen haar opgetree nie.

Ehlers het gister aan Rapport gesê hy het niks verkeerd gedoen nie en wou net sy werkers help. Hy sê die SOE het redes gesoek om die grond terug te kry en het uiteindelik ’n paar name van begunstigdes gekry wat weens swak administrasie as lede van die trust aangestel is terwyl hulle nie geregtig was op die grond nie.

“Die SOE het dit as skynbare korrupsie probeer voorhou om die plaas te bekom. Ek het goeie bedoelings gehad om my plaaswerkers te help en om toesig te hou oor die bedrywighede. Dit was ’n gulde geleentheid om saam te boer. Uiteindelik het die staat die grond teruggevat, maar tien jaar later bly dieselfde mense nog steeds op die plaas. Toe die staat die plaas vat, het als in duie gestort,” sê hy.

“Toe ek in 2011 daar weg is, was daar weiding onder besproeiing, grond wat 2 000 beeste kon dra en ’n voerkraal vir 8 000 beeste. Vandag is niks daarvan oor nie.”

Die SOE het in 2012 korrupsie- en bedrogklagte by die polisie aanhangig gemaak. Rapport kon vasstel dat daar nog geen inhegtenisnemings of vervolgings was nie.

Die Tangeni-plaas is egter net een van verskeie voorbeelde in die SOE-verslag van die honderde miljoene rande van belastingbetalersgeld wat op onsuksesvolle projekte gemors is. Dit was deel van die regering se subsidieprogram wat kwalifiserende swart begunstigdes sou help om plase in hul eie name te bekom. Hulle het geld vir die grond en die projekte self bekom. In die meeste gevalle was die enigste voorwaarde dat die begunstigdes ’n sogenaamde “sweet-aandeel” moet bydra deur self op die grond te woon en werk. In ? kwart van die 145 sake wat deur die SOE ondersoek is, het die begunstigdes nie op die grond gebly nie – in baie gevalle honderde kilometers van die plase af.

Die subsidie-projek is in 2010 laat vaar vir ’n ander projek wat nie meer toegelaat het dat mense grond in hul eie name bekom nie. Die grond wat die staat nou aankoop vir begunstigdes bly die staat se eiendom en die begunstigdes bly huurders – ’n situasie wat sterk deur grondhervormingskenners veroordeel word omdat dit nie die begunstigdes bemagtig nie.

Meer oor:  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.