Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plundering: Vodacom, EFF beskou saak as afgehandel

Vodacom en die EFF beskou die plundering van die Vodacom-winkel in die Mall of the North, Polokwane, deur mense met rooi EFF-hemde en -barette as afgehandel.

Die polisie gaan egter voort om die klagte van opsetlike saakbeskadiging wat die DA ingedien het, te ondersoek, sê kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo.

’n Bakkie met mense wat glo EFF-lede is, Sondag by die Mall of the North in Polokwane.

Die EFF was ontevrede omdat Mavuso Msimang, voorsitter van Corruption Watch, op ’n toekenningsgeleentheid van Vodacom se Joernalis van die Jaar, wat Donderdag in Johannesburg gehou is, ’n skyfie vertoon het met ’n foto van Julius Malema, EFF-leier en sy adjunk, Floyd Shivambu, onder die opskrif: “Misbruikers van die demokrasie.”

Dit het EFF-lede woedend gehad en was glo die rede vir die plundertog.

In ’n gesamentlike verklaring sê Vodacom en die EFF die skyfievertoning “kon anders hanteer word om die misverstand wat ontstaan het te voorkom”.

Hulle verbind hulle tot vryheid van spraak en meningswisseling.

Vodacom sê hy is politiek neutraal en wil nie enige politieke party beïnvloed nie.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het Maandag ’n klag van opsetlike saakbeskadiging by die Polokwane-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Hy sê skade van minstens R500 000 is aangerig toe selfone, stoele en tafels in die winkel rondgegooi is. Video’s van die plundering het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, Maandag by die Polokwane-polisiekantoor.
Die Vodacom-winkel in Polokwane wat Sondag geplunder is.
Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo.

Die Menseregtekommissie (MRK) het die plundering ten sterkste veroordeel. “In ’n grondwetlike demokrasie soos Suid-Afrika moet geweld, plundering of vandalisme wanneer mense ontevrede is met uitlatings waarvan hulle verskil, nie verduur word nie.

“Ons sal die ondersoek fyn dophou en sal ingryp indien dit nodig is.”

Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, hou vol die party het nie opdrag gegee dat die winkel geplunder word nie.

Hy het Woensdag op Facebook gesê Smalle het voortydig ’n klag by die polisie ingedien.

“Jy het gedink jy kan ons naam gebruik om gewild te raak. Hoe voel dit om ’n geveg te verloor, om alleen te veg? Jy is ’n grap.”

Meer oor:  Jossey Buthane  |  Vodacom  |  Plundering  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.