Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plundery: Sal Valke opstokers kan vervolg?

Die nasionale direkteur van openbare vervolging is bekommerd oor wetstoepassingsagentskappe se vermoë om onder andere die opstokers en beplanners van verlede week se geweld en plundering vas te trek.

Adv. Shamila Batohi het Woensdag in ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gemaan dat politieke faksiegevegte en gebrekkige vaardighede die ondersoeke kan ontspoor.

Adv. Shamila Batohi Foto: Daily Sun

Dit was nadat LP’s gehoor het dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) met wetstoepassingsagentskappe saamgewerk het om oortreders in die plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng aan te keer en te vervolg.

Batohi het gesê hoewel die NVG sy deel sal doen, is sy bekommerd oor of wetstoepassingsagentskappe soos die Valke die nodige vaardighede vir ondersoeke na “hoëvlak-oortreders” het.

“Die werklikheid is dat ons wetstoepassingsagentskappe se kapasiteit om ondersoeke te doen gebrekkig is.

“Daar is ook die kwessie dat daar wetstoepassers is wat self die wet oortree het en ons hoop dat daar in ’n hoogs gepolitiseerde omgewing objektiewe besluite geneem sal word.”

Sy het gesê hoewel armoede nie ’n verskoning is om misdade te pleeg nie, sal die NVG dalk simpatiek teenoor die gewone plunderaars wees.

Hulle kan selfs tronkstraf vryspring deurdat hulle ander strawwe soos boetes opgelê word.

“Wat die hoëvlak-oortreders betref, soos die organiseerders, beplanners en opstokers, moet ons genadeloos wees.”

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het navrae na die NVG en die Suid-Afrikaanse Polisiediens verwys.

Volgens inligting is die polisie reeds ses vermeende aanhitsers van die geweld in hegtenis geneem en drie van hulle het reeds in die hof verskyn.

Wat die hoëvlak-oortreders betref, soos die organiseerders, beplanners en opstokers, moet ons genadeloos wees.
Adv. Shamila Batohi

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het die versekering gegee dat niemand wat by die geweldpleging betrokke was, die gereg sal ontglip nie en dat die sake bespoedig sal word.

Lamola het gesê oortreders sal in vier kategorieë verdeel word: In die eerste kategorie val gewone plunderaars; in die tweede kategorie diegene wat in besit van gesteelde goedere is; in die derde kategorie organiseerders; en in die vierde kategorie die opstokers en aanhitsers van geweld.

Hy het gesê weens die versperring van paaie, geweldpleging by nasionale sleutelpunte en die ekonomiese ontwrigting kan van die voorvalle dal op die Wet op die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite betrekking hê.

Luidens ’n voorlegging van die NVG is meer as 800 sake in verband met die onluste by die howe ingedien, hoewel dit onduidelik is presies hoeveel oortreders aangekla is.

Adv. Rodney de Kock van die NVG het gesê sommige oortreders is met ’n waarskuwing vrygelaat, ander is op borgtog vrygelaat, terwyl nog ’n groep in aanhouding is.

“Ons sal elke saak op sy eie meriete beoordeel en verseker dat gelykheid voor die reg geskied.”

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Opstokers  |  Plundery  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.