Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma in hof: Meer as 20 j. speel hy al kat en muis

Alle oë is Maandagoggend op die hooggeregshof in Pietermaritzburg gerig om te sien of die lank sloerende korrupsieverhoor teen oudpres. Jacob Zuma uiteindelik sal begin of nie.

Honderde ANC-ondersteuners word ook by dié verrigtinge verwag nadat die ANC in KwaZulu-Natal ’n ommeswaai gemaak en aangedui het dat hulle die oudstaatshoof in hul amptelike partyhoedanigheid by die hof sal ondersteun.

Intussen sê Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, dat sy slaggereed is om – byna 22 jaar nadat sy in 1999 vir die eerste keer in die parlement die fluitjie oor die destydse wapenskandaal geblaas het – as eerste staatsgetuie in die Zuma-korrupsieverhoor te getuig.

zuma grafika

Regter Petrus Koen, wat onlangs as regter in die saak aangewys is, sal Maandag egter moet besluit of die verhoor voortgaan nadat Eric Mabuza hom op die nippertjie verlede maand as Zuma se prokureur aan die saak onttrek het waarin Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales teregstaan op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in verband met die wapenskandaal.

De Lille het Sondag gesê sy is gretig dat die saak moet voortgaan omdat dit nou al meer as twee dekades sloer.

“Oudpres. Jacob Zuma het altyd gesê dat hy sy dag in die hof wil hê en hy moet nou aan Suid-Afrikaners wys dat hy gereed is en die oppergesag van die reg en die regsproses respekteer en toelaat dat die verhoor voortgaan.

“Dit word nou een van die langste regsake van ons tyd en dit is onaanvaarbaar dat dit vir so lank uitgerek is.

“Die staat is al lank gereed om voort te gaan met die verhoor teen Zuma en ek is gereed om die staat te help deur my burgerlike pligte uit te voer.”

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur. Foto: Gallo Images

Volgens De Lille is Zuma verantwoordelik vir die vertragings en is dit “ ’n skande dat hierdie aangeleentheid 22 jaar nadat die beweringe onthul is nog nie afgehandel is nie.

“Wat bekend geword het as die ‘De Lille-dossier’, het tot twee suksesvolle vervolgings met Schabir Shaik en Tony Yengeni gelei, maar die res van die beweringe is nooit ondersoek nie.

“So, ek hoop dat dit nou die oomblik is waar alle geïmpliseerdes in die wapenskandaal geroep sal word om te getuig sodat die beweringe behoorlik getoets kan word,” het De Lille gesê.

Dr. Llewelyn Curlewis, ’n regskenner by die Universiteit van Pretoria, het egter Sondag gesê dat die saak Maandag waarskynlik weer uitgestel sal word.

“Omdat dit ’n hoëprofiel-saak met ernstige aanklagte is, sal die regter nie sommer sonder regsverteenwoordiging vir Zuma voortgaan nie. Daarom vermoed ek dat dit uitgestel sal word vir regsverteenwoordiging veral nadat verskeie prokureurs soos Richard Spoor onlangs aangebied het om Zuma gratis te verteenwoordig.”

Volgens Curlewis sal die uitstel ook lank wees omdat die nuwe prokureur op die hoogte van die saak sal wil kom.

Intussen het Sihle Zikalala, ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal en provinsiale premier, aan Newzroom Afrika gesê dat dié ANC-struktuur Zuma Maandag ook by die hof sal ondersteun.

Dít nadat die ANC vroeër besluit het dat sy lede nie partylede soos Zuma of Ace Magashule, tydelik geskorste sekretaris-generaal, in hul party-hoedanigheid by howe moet ondersteun nie.

Zikalala meen egter dat hul besluit op politieke oorwegings gegrond is. “Ons weet daar is diegene wat die Zuma-hofsaak om populêre redes wil gebruik om hul eie agendas te bevorder.”

Intussen is betroubaar verneem dat lede van die Mkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging, wat die afgelope ruk ook by Zuma se woonkompleks in Nkandla “waghou” en dreig om hom teen enige inhegtenisnemings te verdedig, ook die hofverrigtinge Maandag sal bywoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.