Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Polisie moet hul ‘sokkies optrek’

Statisitieke Suid-Afrika (SSA) se jongste meningspeiling oor slagoffers van misdaad is ’n duidelike wekroep dat die polisie sigbaarheid in gemeenskappe drasties sal moet opskerp.

Daarbenewens is die portefeuljekomitee oor polisie baie bekommerd oor nog ’n bevinding dat openbare ontevredenheid met die polisie toeneem.

Francois Beukman, komiteevoorsitter, het Vrydag so op ’n sitting oor die private veiligheidsektor in die parlement gesê in reaksie op die meningspeiling wat Risenga Maluleke, statistikus-generaal, Donderdag bekend gestel het.

Francois Beukman. Foto: Jaco Marais

Sowat 30 000 huishoudings het aan die peiling oor misdaad en openbare mening oor die polisie, howe en korrektiewe dienste deelgeneem.

Volgens Beukman wys die peiling dat misdaad in Suid-Afrika styg met ’n geskatte 1,24 miljoen huishoudings wat in 2017/ 2018 daardeur geraak is.

“Die bevinding dat huisbraak en inbraak die algemeenste misdaad is wat Suid-Afrikaners raak, maak dit noodsaaklik dat die polisie die sigbaarheid van polisie-eenhede landwyd moet verbeter.

“Gereelde patrollies, meer padblokkades in misdaadbrandpunte, doeltreffende sektorpolisiëring, verhoogde samewerking met gemeenskapspatrolleerders en -polisiëringsforums, buurtwagte en private veiligheidsmaatskappye is die sleutel om langtermynoplossings te vind.”

Volgens hom moet gemeenskapspolisiëring onderskryf word deur beter reaksietye van die polisie.

“Speurwerkvlakke vir verskeie misdaadkategorieë is egter steeds te laag en die speurdiensafdeling moet hul pogings verbeter om huidige tekortkominge te takel.”

Volgens Beukman moet die nasionale polisiebestuur verseker dat streek- en stasiebevelvoerders pogings verbeter om prioriteits- en kontakmisdade te bestry.

As ons dink aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi (van 2010) het almal van die polisie gehou. Hulle was oral sigbaar en almal het veilig gevoel om in die strate te loop, maar al wat ons deesdae by landsburgers hoor, is hoe die polisie omkoopgeld soek.
Dianne Kohler Barnard, DA-LP

“Taktiese ontplooiing en voorkomende polisie-operasies moet daarop gefokus wees om af te skrik en om gemeenskapsvertroue te bou.”

Beukman voeg by dat die polisiebestuur die afgelope week in die parlement aangedui het dat die vul van alle vakante poste by polisiekantore geprioritiseer sal word.

“Verder is die werf van meer polisiereserviste belangriker as ooit. Dit is noodsaaklik dat brandpunte geprioritiseer word in die toekenning van lede, geskikte toerusting en voertuie.”

SSA sal die parlement oor twee weke oor die meningspeiling toespreek.

Angelina Molebatsi, ANC-LP, het in reaksie hierop gesê die manier waarop die polisie hul werk doen, is frustrerend.

“Die polisie moet regtig meer doen om die publiek se vertroue te herwin.”

Dianne Kohler Barnard, DA-LP, sê alles kom neer op landsburgers se vertroue of gebrek daaraan in die polisie.

“As ons dink aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi (van 2010) het almal van die polisie gehou. Hulle was oral sigbaar en almal het veilig gevoel om in die strate te loop, maar al wat ons deesdae by landsburgers hoor, is hoe die polisie omkoopgeld soek.”

Volgens Kohler Barnard vertrou burgers nie meer die polisie nie en daarom word misdaad nie aangemeld nie.

Meer oor:  Risenga Maluleke  |  Polisie  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.