Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Polisie vertraag glo Opod se ondersoek na ‘geheime agent’

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) se ondersoek na kapt. Morris “KGB” Tshabalala, een van die polisie se mees omstrede “geheime agente”, word vertraag omdat die polisie weier om inligting oor hom wat as hoogs geheim geklassifiseer is, te deklassifiseer.

Kapt. Morris ‘KGB’ Tshabalala. Foto: VERSKAF

Dit het Dinsdag aan die lig gekom toe Opod aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) oor van sy hoëprofielondersoeke verslag gedoen het.

Themba Godi, voorsitter van Skoor, het toe vir Fikile Mbalula, minister van polisie, Opod, die nasionale vervolgingsgesag en Sita, die staat se agentskap vir inligtingstegnologie, gevra om die situasie so gou doenlik aan die komitee te kom verduidelik.

Vroeër is berig dat die polisie Tshabalala verlede maand afgedank het nadat Opod hom op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem het.

Hy kon glo nie sê wat geword het van R560 000 van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid se geheime fonds vir spesiale operasies nie.

Matthews Sesoko, Opod se hoof van ondersoeke, het Dinsdag aan Skoor gesê hul ondersoek na Tshabalala het aan die lig gebring dat Tshabalala in 1996 tien jaar tronkstraf weens roof opgelê is. Hy is in 2001 as “intelligensie-invorderaar” vir die polisie aangestel en in 2005 tot kaptein bevorder.

“In 2012 is hy aangestel as hoof van ’n operasie genaamd Rapid Deployment Intelligence. Die operasie is begin om intelligensiewerk te doen vir die ANC se Mangaung-konferensie in Desember 2012, waar oudpres. Jacob Zuma tot sy tweede termyn as ANC-president verkies is. Tshabalala het ’n begroting van R50 miljoen gehad.

“Daar is nie behoorlik verantwoording gedoen oor die begroting nie en daarom het Opod en die kantoor van die inspekteur-generaal van intelligensie met ’n ondersoek begin,” het Sesoko gesê.

Volgens Sesoko is Tshabalala in 2013 vir nog ’n rooftog in Sasolburg in hegtenis geneem en “toe sy vingerafdrukke geprosesseer is, is bevind hy was in daardie stadium veronderstel om tronkstraf uit te dien”.

Sesoko sê hy is in 2013 afgedank, maar het aktief in die polisiediens as ’n werknemer aangebly.

“Nadat hy net twee jaar van sy tronkstraf van tien jaar uitgedien het, is hy in November 2015 op parool vrygelaat. Hy het op 16 September 2016 aansoek gedoen vir herindiensneming in die polisie en het op 30 September 2016 bedank sodat hy in ’n agentprogram geplaas kan word. Die polisiebestuur kan nie rekenskap gee oor hoe dit gebeur het nie.”

Volgens Sesoko was Tshabalala sedert Oktober 2016

“ ’n agent” en hy is in opdrag van (ene) genl.maj. Bemutanzhela hanteer “deur iemand in die inligtingstegnologieafdeling van misdaadintelligensie wat nie verantwoordelik is vir die hantering van agente nie.

“Hy het ’n salaris van tussen R20 000 en R30 000 gekry. Daarby het hy ’n staatsvoertuig, ’n brandstoftoelaag van tussen R5 000 en R8 000, ’n selfoontoelaag van tussen R1 000 en R1 500 en ’n mediese toelaag gekry. Die hanteerder het geen projek aan hom toegeken nie en is opdrag gegee om Tshabalala net te betaal.

“Dieselfde het Tshabalala se kollega ao. “Pope” Maluleke gegeld. Hy het die polisie selfs hof toe gesleep omdat hy betaal is en niks werk gedoen het nie. Met sy aansoek wou hy die polisie dwing om hom werk te gee.”

Volgens Sesoko het dit ook aan die lig gekom dat Tshabalala “geen werk met betrekking tot misdaadbestryding gedoen het nie, maar eerder betrokke was by faksiepolitiek in die ANC”.

Tshabalala is borgtog geweier en Opod wil nou hê dat sy parool ook teruggetrek word.

Meer oor:  Opod  |  Themba Godi  |  Fikile Mbalula  |  Polisie-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.