Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Politieke gelol vertraag herstel van paaie – DA

Die omstrede projek vir die herstelwerk van R261 miljoen aan die pad tussen Deneysville en die Jim Fouché-vakansieoord, wat al in Mei 2016 begin het, is een van verskeie Vrystaatse padkontrakte wat deur politieke inmenging vertraag word, sê Leona Kleynhans, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer.

Inwoners van Deneysville en Oranjeville het ’n beswaarskrif oor die vertragings by die wetgewer ingedien omdat dit groei in toerisme tot stilstand gebring het.

Sy sê ses werkers is dood omdat veiligheidsregulasies openlik verontagsaam word met die werk aan die pad van 44 km.

Die pad tussen die Jim Fouché-oord en Deneysville wat net nie voltooi word nie. Foto: Mlungisi Louw

“Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer sê die projek is 70% voltooi en sal in Mei 2019 afgehandel word.”

Die DA dink egter nie die projek sal in Mei voltooi wees nie. Intussen staan die Jim Fouché-oord verwaarloos, vervalle, en in onbruik.

“Baie toerisme-ondernemings in Oranjeville is gesluit of word met net ’n handjievol personeellede bedryf.”

Die herstelwerk van R265 miljoen aan die pad van 50 km tussen Vredefort en Viljoenskroon, waarvan die kontrak in September 2017 aan Sedtrade toegeken is, is ook verskeie kere onderbreek vanweë arbeidsgeskille en probleme met die verkryging van sand en gruis.

“Die vordering met dié pad staan op 35%, maar die departement hou vol dit sal in Julie 2019 voltooi word.”

Sy sê boere in die omgewing is geweldig gefrustreerd oor die toestand van die paaie. Boonop sloer die opgraderingswerk.

Kleynhans sê die projek van R168 miljoen vir die pad tussen Bothaville en Viljoenskroon, wat in Oktober 2017 aan Phezulu Plant toegeken is, het eers in Januarie 2018 begin.

Sedert die begin van die projek word dit gekenmerk deur protesaksies en geskille in Bothaville. Dit sou in Bothaville begin, maar is weens die betogings by Viljoenskroon begin. Dit veroorsaak dat die swak gedeelte van die pad wat voor die Nampo-gebied verbyloop, steeds in ’n geweldig treurige toestand is.

“Die projek, wat na raming 22 maande lank sou duur, is ná 12 maande net 31% voltooi.”

Leona KleynhansFoto: Vaalweekblad

Phezulu Plant het in September 2017 ook die kontrak van R184 miljoen gekry vir die pad van 48 km tussen Wesselsbron en Hoopstad.

“Bouwerk kon eers in Januarie 2018 begin as gevolg van onrus oor die indiensneming van werkers en subkontrakteurs.

“Ná 13 maande van die geskatte 22 maande wat die projek sou duur, staan die vordering met die projek op 21%.”

Sy sê politieke inmenging, veral met die toekenning van tydelike werkgeleenthede, veroorsaak probleme. ANC-burgemeesters is in beheer daarvan en hulle ken die werk vermoedelik aan lojale ANC-kaders toe.

Omdat die proses volgens haar nie regverdig is nie, is daar verskeie protesaksies oor arbeidskwessies. Die tydelike werkers het ook ’n minimum loon van R175 per dag geëis, pleks van R115 per dag.

Kleynhans sê die hoofkontrakteurs word ook gedwing om 30% van die kontrakwerk aan subkontrakteurs te gee wat deur die departement aangewys word.

“Die proses kan ook polities gemanipuleer word. Al die geïdentifiseerde subkontrakteurs is van die Mangaung-omgewing. Dit veroorsaak konflik met ander subkontrakteurs in die provinsie.”

Sy sê in die Wesselsbron-Hoopstad-projek moes twee ongeregistreerde subkontrakteurs teen R13,8 miljoen elk aangestel word.

Hoofkontrakteurs is ontevrede oor subkontrakteurs sonder vaardighede en toerusting wat die departement vir hulle aanstel. “Kontrakteurs is ook gefrustreerd oor die vertragings in betalings wat deur die departement veroorsaak word.”

Meer oor:  Deneysville  |  Herstelwerk  |  Politiek  |  Pad  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.