Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Politieke partye kap Cyril oor ‘dwase, naïewe plan’

Dwaas en rigtingloos, teleurstellend, ekonomies naïef en utopies.

Só het die EFF, die Vryheidsfront Plus en AfriForum Donderdagmiddag onderskeidelik gereageer op pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan vir Suid-Afrika, wat hy tydens ’n gesamentlike sitting van die parlement bekend gestel het.

Die DA, Good en die vakbondfederasie Cosatu meen op hul beurt dié plan sal net vrugte afwerp as dit daadwerklik geïmplementeer word en nie ook soos talle ander soortgelyke planne voor dit, net woorde op papier bly nie.

Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, het gesê Ramaphosa se plan bewys die ANC-regering het nie die “politieke dapperheid, dinamiek en visie om Suid-Afrika uit die huidige ekonomiese depressie na een sonder werkloosheid, ongelykheid en armoede te lei nie”.

“Die EFF het die hele tyd gewaarsku enige poging om Suid-Afrika se apartheidsekonomie ingevolge die nasionale ontwikkelingsplan te wil herbou en herorganiseer, is sinloos en dwaas.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê alles wat Ramaphosa aangekondig het, is “bloot ’n herhaling van vorige beloftes en planne” wat nooit geïmplementeer is nie.

“Die president en die ANC gaan voort om die verkeerde dinge te doen soos om te volhard met beleid soos swart ekonomiese bemagtiging, onteiening sonder vergoeding en striemende arbeidswetgewing wat beleggers eerder verdryf as wat dit ekonomiese groei sal bewerkstellig en werk sal skep.”

Die EFF het die hele tyd gewaarsku enige poging om Suid-Afrika se apartheidsekonomie ingevolge die nasionale ontwikkelingsplan te wil herbou en herorganiseer, is sinloos en dwaas.

Intussen meen Herman Mashaba, president van ActionSA, Ramaphosa se jongste plan wys dat hy weer “die belange van die ANC en sy alliansievennote bo dié van miljoene werklose Suid-Afrikaners plaas”.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, meen die basiese boublokke wat gebruik moet word om ekonomiese groei te stimuleer, word nie deur die plan gedek nie.

“Dit sluit in dat sekerheid oor eiendomsreg geskep moet word en dat die sakesektor gedereguleer moet word ten einde dit vir entrepreneurs makliker te maak om sakeondernemings te begin en werk te skep.”

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê die enigste ding wat tel, is of die nodige hervormings betyds geïmplementeer kan word om verdere massawerkloosheid en armoede te keer.

“Hy moet enige minister afdank wat in die pad van hervorming staan. Hy moet hom verbind tot vaste tydsraamwerke vir implementering.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, het bygevoeg die dringende implementering van die plan is die sleutel om die ekonomie suksesvol reg te ruk.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het gesê hulle stem saam dat alle maatskaplike vennote moet saamwerk om die huidige ekonomiese krisis te oorbrug.

Die vakbondfederasie is tevrede dat sy Eskom-plan deur die regering aanvaar is en vra dat dit spoedig geïmplementeer word “omdat bekostigbare en betroubare elektrisiteitsverskaffing sentraal vir ons ekonomiese herstel is”.

Hy moet enige minister afdank wat in die pad van hervorming staan. Hy moet hom verbind tot vaste tydsraamwerke vir implementering.

Nicol Jansen van AgriSA het gesê dié landbou-organisasie meen die landbousektor sal die voortou neem om die ekonomie te herstel.

“Plaasboer-ontwikkeling, landelike veiligheid en marktoegang moet daarom as sleuteldrywers vir dié doelwit geprioritiseer word.”

AgriSA sê die plan het min besonderhede oor hoe die probleme opgelos sal word, asook tydsraamwerke daarvoor.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, meen die plan “klink baie mooi, maar die hoofoorsaak van die probleem is steeds die beleidsomgewing wat kundigheid uit die land verdryf het.

“Dit is van kritieke belang om alle beperkings op die vloei van die ekonomie onmiddellik op te hef,” het hy bygevoeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.