Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Politieke partye positief, maar ook bekommerd oor begroting

Planne om die staat se salarisrekening te verminder, belastingverligting vir individue en belasting op toegevoegde waarde (BTW) wat onveranderd bly, is Woensdag ná Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede deur politieke partye verwelkom.

Tito
Tito Mboweni, minister van finansie, voor sy begrotingsrede Woensdag. Foto: Adrian de Kock

Hulle is egter bekommerd oor die land se skuldvlakke.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het gesê gegewe die min beweegruimte wat Mboweni gehad het, was daar positiewe aspekte in sy toespraak.

“Daar was pro-groei-aspekte – geen nuwe belastings – trouens ’n geringe vermindering – dit is baie goed vir die ekonomie.”

Die “streng geluide” wat Mboweni oor die staat se salarisrekening gemaak het – ’n besnoeiing van R160 miljard op mediumtermyn – is volgens Hill-Lewis presies wat die land benodig. “Die vraag is of die minister dit sal kan lewer. Net omdat dit ’n syfer op ’n stuk papier is, beteken nie dit gaan gebeur nie. Daar moet steeds daaroor onderhandel word – dit is ’n groot as. Dus berus die geloofwaardigheid van die begroting daarop of daardie syfers regtig gelewer kan word.”

Hy het daarop gewys dat die vakbonde reeds aangedui het dat dié stap “ ’n oorlogsverklaring” is. “Dit is dus ver van gewaarborg dat daardie R160 miljard gelewer sal word.”

Die reddingsboeie van R112 miljard oor die volgende drie jaar aan Eskom is vir Hill-Lewis “nie goeie nuus nie”.

Die reddingsboeie van R112 miljard oor die volgende drie jaar aan Eskom is vir Hill-Lewis “nie goeie nuus nie”.

“Dit kom ten koste van ware besnoeiings in onderwys, polisie, gesondheid . . . Dit is ’n swak keuse om staatsinstellings bo noodsaaklike dienste te bevoordeel,” het Hill-Lewis gesê.

Ook Julius Malema, EFF-leier, het gesê onder die omstandighede is dit nie ’n swak begroting nie.

“Die minister het gesê ’n soewereine welvaartfonds gaan op die been gebring word. Daar is geen sperdatum of tydsraamwerk nie, maar hy gaan terugkom na ons toe met die relevante wetgewing.

“Ons gaan wag daarvoor, maar die idee van ’n soewereine welvaartfonds kom van die EFF af, insluitend die staatsbank. Ons het formeel wetgewing voorgestel om die Wet op Banke in die land te wysig om voorsiening te maak vir ’n staatsbank. Hulle het besef die EFF se voorstel is die praktiesste om besliste ingryping in die finansiële sektor te bewerkstellig,” het Malema gesê.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê hy dink almal is verlig dat daar geen verhoging in persoonlike belasting was nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê hy dink almal is verlig dat daar geen verhoging in persoonlike belasting was nie.

“Wat my wel bekommer as ons na die algehele prentjie kyk, is dat die begrotingstekort in dié stadium 6,5% van die bruto binnelandse produk is. Oor die totale skuldlas van die staat word gepraat van R3 650 miljard , maar die staat gaan desondanks voort met sy staatsbank en soewereine welvaartfonds. Hy het nie geld om sy skuld te betaal nie, maar hy wil sulke fondse stig. Daar is nie geld daarvoor nie.”

Hy het met verwysing na Mboweni se plan om die staat se salarisrekening met altesame R160 miljard in die volgende drie jaar te besnoei, gesê die vraag is of Cosatu en ander vakbonde hom sal toelaat om dit te doen, aangesien Cosatu reeds gesê het hy sal oorlog verklaar teen ’n afname in salarisverhogings.

Die IVP het sy kommer uitgespreek oor die staat se skuldvlakke en dat Mboweni geen versekering gegee het dat sukkelende staatsentiteite gedeeltelik geprivatiseer sou word nie.

Die IVP het sy kommer uitgespreek oor die staat se skuldvlakke en dat Mboweni geen versekering gegee het dat sukkelende staatsentiteite gedeeltelik geprivatiseer sou word nie.

Die party het die ingrypings verwelkom wat die besnoeiing van staatskuld betref, asook meer geld wat beskikbaar sal wees vir entiteite van die polisie en justisie om korrupsie te beveg.

“Soveel as wat ons die totstandkoming van ’n staatsbank en ’n soewereine welvaartfonds verwelkom, glo ons dat dié entiteite eenvoudig bodemlose putte sal word om van te plunder as ons nie die status quo wat die bestuur van staatsentiteite betref, daadwerklik hanteer nie.”

Steve Swart, ACDP-hoofsweep, het persoonlike inkomstebelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW) wat onveranderd bly, as positiewe aspekte uitgelig.

Steve Swart, ACDP-hoofsweep, het persoonlike inkomstebelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW) wat onveranderd bly, as positiewe aspekte uitgelig. Die party het Mboweni se kommer oor die staatsdiens se salarisrekening en die voorgestelde besparings van R160 miljard op mediumtermyn verwelkom.

“Hoëvlak-besprekings en ’n politieke ooreenkoms tussen die regering en die arbeidsektor sal noodsaaklik wees om dié besparing teweeg te bring deur ’n kombinasie van veranderinge aan die lewenskoste-aanpassings, salarisvordering en ander voordele. Die fokus moet ook wees op die vermindering van die opgeblase bestuursvlak, eerder as op onderwysers, polisiebeamptes en verpleegsters wat almal sleutelrolle in dienslewering speel.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Politiek  |  Politieke Partye  |  Begroting  |  Begrotingsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.