Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Politieke spoor dalk ook in landelike misdaad’

Hy sal verstom wees as Suid-Afrika se misdadige politiek “nie ook ’n identifiseerbare spoor in landelike misdaad het nie”, sê dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Hy het dié uitlating gemaak na aanleiding van ’n toespraak wat Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, Maandag op Nampo naby Bothaville in die Vrystaat gelewer het.

Dr. Piet Croucamp

Volgens Roets is daar “enkele gevalle” waar dit lyk of daar regstreekse regerings- of polisiebetrokkenheid by plaasmoorde is, maar hy kon geen bewyse van ’n sentrale plan kry nie.

Hy het navorsing gedoen oor plaasmoorde vir sy boek Kill the Boer, wat einde Junie bekend gestel word.

Die boek ondersoek of daar regeringsaandadigheid by plaasmoorde is.

Daar word, volgens Roets, maklik in Suid-Afrika verwys na ’n derde mag, maar hy kon geen “tasbare bewyse” kry nie.

Hy sê AfriForum is bekommerd oor al meer gerugte die afgelope tyd dat daar regstreekse politieke betrokkenheid by plaasmoorde is.

Volgens Roets lui die gerugte dat spesifiek die polisie en politici na bewering by plaasmoorde betrokke is.

Croucamp sê Suid-Afrika is ’n land met buitengewone hoë vlakke van misdaad.

“Ons ly almal daaronder. Ons weet ook dat ’n groot deel van ons politiek misdadig is. Die duidelikste bewys daarvan is die endemiese politieke moorde in KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

“Ek sal verstom wees as ons misdadige politiek nie ook ’n identifiseerbare spoor in landelike misdaad het nie.

“Die ANC het geen meesterplan teen boere in dié opsig nie. Maar ek het al vanuit die binnekring van die ANC gehoor dat daar onderling bewerings gemaak word teen enkele politici dat enkele voorvalle wel aan politieke misdadigheid grens,” sê Croucamp.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum.

Kobus Visser, Agri SA se hoof van landelike veiligheid, het in sy reaksie gesê as enigiemand inligting “van watter aard ook al het” wat kan help om enige politieke motief vir plaasmoorde en -aanvalle te onthul, moet dié inligting aan die polisie, óf die nasionale vervolgingsgesag, gegee word sodat dit behoorlik ondersoek kan word.

Visser wys daarop dat daar met vroeëre omvattende ondersoeke na motiewe vir plaasaanvalle nie bewyse gevind kon word dat dit politiek of rasgemotiveerd was nie.

“In een van die ondersoeke is wel uit gesprekke met staatsaanklaers bevind dat daar ’n mate van haat by van hierdie aanvalle betrokke was.

“Die gewelddadige en wrede neiging in plaasaanvalle is kommerwekkend.

“Ons is ook baie bekommerd oor die opruiende uitsprake wat sommige politici maak. Dít kan aanleiding gee daartoe dat ‘elemente in ’n gemeenskap wat misdaadgeoriënteerd is’ by plaasaanvalle betrokke raak,” sê Visser.

“Baie van hierdie uitsprake oor grond is roekeloos en onverantwoordelik. Dit sluit in uitsprake soos dat grond op gewelddadige wyse teruggeneem gaan word.

“Dit kan lei tot die polarisasie van mense en aanhitsing tot geweld teen sekere groepe van die samelewing.”

Meer oor:  Kobus Visser  |  Piet Croucamp  |  Ernst Roets  |  Politiek  |  Landelike Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.