Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Potch se nr. 1 staan eindelik opsy ná week van drama

Ná ’n week van drama waarin hy oënskynlik onwillig was, het Kgotso Khumalo, Potchefstroom se burgemeester, Woensdag amptelik kennis gegee dat hy opsy staan.

Kgotso Khumalo Foto: Verskaf

Khumalo is die uitvoerende burgemeester van die J.B. Marks-munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien. Hy en twee vermeende medepligtiges word strafregtelik aangekla dat hulle R5 miljoen van die munisipaliteit gesteel het. Hulle het reeds op aanklagte van diefstal en bedrog in die hof verskyn.

Khumalo moet dus ook opsy staan ingevolge die besluit van die ANC se nasionale uitvoerende komitee dat lede wat op ernstige strafregtelike aanklagte teregstaan hul ampte moet ontruim.

Willie Maphosa, J.B. Marks se munisipale woordvoerder, het Woensdagoggend nog gesê die munisipaliteit het geen amptelike kennisgewing gekry dat Khumalo opsy staan nie. Maphosa het gesê die laaste kennisgewing wat hulle (tot Woensdagmiddag) gekry het, was dat hy met verlof is en iemand aanstel om in sy plek as burgemeester waar te neem.

Maphosa het beklemtoon dat die opsystaan-kwessie ’n ANC-aangeleentheid is waaroor die munisipaliteit nie seggenskap het nie.

Khumalo het later Woensdag in ’n brief aan die speaker laat weet dat hy weens die strafregtelike aanklagte teen hom opsy staan. Dit wil voorkom of Khumalo onder druk van die ANC se provinsiale bestuur geswig het.

News24 berig die ANC se tussentydse leierskap in die provinsie sou na verwagting binnekort vergader om die kwessie te bespreek dat Khumalo oënskynlik nie opsy wil staan nie.


Die brief wat Kgotso Khumalo Maandag uitgereik het en waaroor die ANC se provinsiale bestuur in Noordwes blykbaar vuur gespoeg het. Foto: Verskaf
Die opsystaan-kennisgewing wat Kgotso Khumalo Woensdag aan die speaker gestuur het. Foto: Verskaf

Patrick Chauke, koördineerder van die ANC se tussentydse leierskapskomitee in Noordwes, het gesê Khumalo het (vroeër) nie sy sogenaamde bedankingsbrief onderteken nie. Hy is glo ook oor die kole gehaal oor ’n brief wat hy Maandag uitgereik het waarin hy iemand aanwys om in sy plek waar te neem, terwyl lede wat opsy staan geen amptelike pligte mag uitvoer nie.

Die brief wat Maandag gestuur en deur Khumalo onderteken is, is in Netwerk24 se besit.

Die VF Plus en DA het te midde van die drama duidelikheid oor Khumalo se posisie geëis. Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in J.B. Marks, het Khumalo se uiteindelike besluit om opsy te staan verwelkom.

“Hy het uiteindelik ná maande lange druk sedert sy inhegtenisneming in Oktober verlede jaar onder die openbare en politieke druk geswig. Ons is wel bekommerd omdat Khumalo nog nie as ’n raadslid bedank het nie. Hy sal nie alleen steeds op die belastingbetalers se betaalrol wees nie, maar gewis aansienlike mag oor sy goed gevestigde ondersteuningsnetwerk in J.B. Marks behou.

“Die DA sê hy moet heeltemal uit die openbare diens verwyder word (hangende die saak teen hom).”

Marlene Steyn-Du Toit, VF Plus-raadslid in J.B. Marks, sê die “chaotiese stand van sake” die afgelope week oor Khumalo se posisie “is ’n verdere simptoom van die wanbestuur en korrupsie wat mettertyd in dié ANC-beheerde munisipaliteit posgevat het”.

Hy het uiteindelik ná maande lange druk sedert sy inhegtenisneming in Oktober verlede jaar onder die openbare en politieke druk geswig. Ons is wel bekommerd omdat Khumalo nog nie as ’n raadslid bedank het nie.

Hattingh sê die DA het “nou genoeg gehad van die kat-en-muis-speletjies” tussen die ANC-faksies wat onderskeidelik pres. Cyril Ramaphosa en die geskorste sekretaris-generaal, Ace Magashule, steun. Dit het uitgekring na die sage rondom Khumalo se bedanking oor of hy opsy moet staan.

“Dis duidelik die vegtende ANC-faksies stel nie daarin belang om eens die skyn van regering in J.B. Marks te herstel nie,” sê Hattingh.

“Met minder as vyf maande oor voor die plaaslike verkiesing sal J.B. Marks sy inwoners in die steek laat terwyl faksiegevegte voorkeur bo dienslewering geniet.

“Inwoners moet kennis neem hiervan en die misdaad-geteisterde ANC in vanjaar se verkiesing verwerp.”

Nie Khumalo of die ANC in Noordwes het Woensdag op oproepe en navrae gereageer nie. Die J.B. Marks-raad vergader Donderdag om Khumalo se opsystaan-kennisgewing te bespreek.

Meer oor:  Kgotso Khumalo  |  Potchefstroom  |  Drama  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.