Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Potch se nuwe burgemeester ‘onwettig verkies’

Die DA, EFF en VF Plus is dit dié keer eens: Die verkiesing van ’n nuwe burgemeester vir Potchefstroom was onwettig omdat die ANC ’n openlike stemming by wyse van die lig van hande afgedwing het.

Die ANC se kandidaat, raadslid Mapule Mataboge, is Vrydag op dié manier as die beleërde Kgotso Khumalo se plaasvervanger aangewys.

Khumalo het verlede Donderdag uiteindelik opsy gestaan terwyl hy teregstaan op aanklagte van diefstal en bedrog omdat hy en ander hooggeplaastes na bewering R5 miljoen van die munisipaliteit gesteel het.

Kgosiemang Elias Mogoemang
Kgosiemang Elias Mogoemang, speaker van die J.B. Marks-munisipaliteit. Foto: Susan Cilliers

Khumalo, tot onlangs nog uitvoerende burgemeester van die J.B. Marks-munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, het aanvanklik vasgeskop en nié opsy gestaan nie. Hy het oënskynlik Donderdag geswig onder druk van die ANC in Noordwes se provinsiale leierskap, wat hom glo tot orde geroep het.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het onlangs besluit alle ANC-lede wat weens ernstige misdrywe strafregtelik vervolg word, moet opsy staan. Indien hulle weier, sal hulle geskors word.

Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in J.B. Marks, sê die Wet op Munisipale Strukture stipuleer duidelik dat indien daar meer as een burgemeesterskandidaat is, ’n geheime stemming moet plaasvind. Hy dink dis duidelik dat die ANC Vrydag ’n ope stemming afgedwing het omdat die party erg verdeeld en daar ’n gebrek aan vertroue in hul eie raadslede is.

“Hulle was bang vir ’n herhaling van wat in 2012 gebeur het, toe nege ANC-raadslede gestem het in die guns van die DA se mosie van wantroue teen die (destydse) burgemeester. Dit was ’n geheime stemming en die DA het toe beheer oor die raad geneem.”

Die DA, EFF en VF Plus het die vergadering Vrydag verlaat toe dit duidelik geword het Kgosiemang Elias Mogoemang, die speaker, gaan nie toegee dat ’n openlike stemming by wyse van die lig van hande onwettig is nie. Die ANC het met hul meerderheidstem besluit die stemming moet so gebeur.

Ondanks die ANC se retoriek van ’n nuwe era om korrupsie uit te roei en om die oppergesag van die wet te erken, gaan hulle voort om die wet op elke moontlike geleentheid te ondermyn.

Die DA beoog nou ’n mosie van wantroue teen die speaker omdat hy ingestem het om “die onwettige stemming” te laat plaasvind.

“Ondanks die ANC se retoriek van ’n nuwe era om korrupsie uit te roei en om die oppergesag van die wet te erken, gaan hulle voort om die wet op elke moontlike geleentheid te ondermyn,” sê Hattingh.

“Dít terwyl korrupte ANC-netwerke van politici en kaders voortgaan om die staatskas te plunder.”

Marlene Steyn-Du Toit, VF Plus-raadslid in J.B. Marks, sê ook dié party het die speaker gewys op die bepalings van die betrokke wetgewing, “maar hy het ten spyte daarvan toegelaat dat die raad ’n onwettige stemming (in die ope) hou”.

“Dis ’n skandelike vertoon van die ANC se minagting vir landswette en ’n duidelike bewys van hoe die ANC homself bo landswette stel om sy eie belange te bevorder. Dit wys weer eens hoe vasberade die ANC en sy ontplooide kaders is om hul plunderstrukture te beskerm.”

Die J.B. Marks-munisipaliteit se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

Die EFF se leierskap in Noordwes kon ook nie Maandagmiddag vir kommentaar bereik word nie.

Willie Maphosa, munisipale woordvoerder van J.B. Marks, sê die speaker se kantoor sal later meer volledig reageer op die bewerings oor die onwettigheid van die verkiesing. “Die besluit oor hoe gestem gaan word, is tydens ’n wettige raadsitting en deur middel van deeglike debatvoering geneem.”

Meer oor:  Potchefstroom  |  Burgemeester  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.