Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Praat minder en doen meer, vra Cyril op indaba

Gegewe die groot uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, moet die regering en ander belanghebbendes minder praat en meer doen.

Dít is die kern van pres. Cyril Ramaphosa se boodskap in sy toespraak Maandag op vanjaar se sake-en-ekonomiese indaba in Sandton, Johannesburg.

“Ons het nie die luukse van tyd of om dinge te bepeins nie. Ons moet daarop fokus om tasbare uitkomste in werking te stel,” het Ramaphosa gesê.

Hy het nie doekies omgedraai oor die ernstige probleme wat die land ondervind nie.

Pres. Cyril Ramaphosa praat Maandag op 2020 se sake-en-ekonomiese indaba in die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg.Foto:

“Ons beleef ’n ekonomiese krisis, ons ekonomie groei nie, ons ondernemings sukkel, die werkloosheidsyfer is hoog, beleggersvertroue taan en ondernemings begin om mense af te lê.”

Tog het hy nie veel besonderhede gegee oor hoe sy regering van plan is om dié kwessies te takel nie.

Van die grootste probleme wat sakelui op die beraad bespreek het, is kragverskaffing, beleidsonsekerheid, lae sakevertroue, die vermoë van die staat en regeringsamptenare wat vyandig gesind teenoor die private sektor is.

Ramaphosa het onderneem om van die voorstelle wat sakelui op die beraad gemaak het in te sluit by sy staatsrede, wat hy in Februarie sal lewer.

Hy het geraak aan kwessies soos grondonteiening sonder vergoeding, private kragopwekking, asook Eskom en ander staatsondernemings.

Hy het die sakegemeenskap gemaan om by grondhervorming betrokke te raak voordat dit te laat is.

“In Zimbabwe sê sakeleiers hulle het te laat oor die grondkwessie opgetree. In ons land is die grondkwessie net so belangrik en daarom vra ons die sakegemeenskap om nou na vore te tree. As ondernemings byvoorbeeld surplus grond het, skenk dit vir grondhervormingsdoeleindes.”

In Zimbabwe sê sakeleiers hulle het te laat oor die grondkwessie opgetree. In ons land is die grondkwessie net so belangrik en daarom vra ons die sakegemeenskap om nou na vore te tree. As ondernemings byvoorbeeld surplus grond het, skenk dit vir grondhervormingsdoeleindes.

Oor Eskom het Ramaphosa nie veel gesê nie, behalwe dat die regering die kragverskaffer se probleme probeer oplos en voortgaan met sy planne om dit te ontbondel. Hy het wel gewys op een van die uitkomste van die ANC se onlangse bestaansvieringe dat daar minder politieke inmenging by staatsondernemings moet wees.

Volgens Ramaphosa hou die regering by sy planne om die private sektor toe te laat om sy eie krag op te wek en aan Eskom te verkoop.

“Ons hanteer nou die beleidskwessies. Ons betree ’n nuwe era van kragopwekking en ons aanvaar dat daar ondernemings en huishoudings is wat hul eie krag wil opwek en verkoop.”

Hy het gesê hy verstaan die private sektor se frustrasie oor die regering se stadige pas om hervormings en beleide in werking te stel.

Ons hanteer nou die beleidskwessies. Ons betree ’n nuwe era van kragopwekking en ons aanvaar dat daar ondernemings en huishoudings is wat hul eie krag wil opwek en verkoop.

“Ons verstaan daar is beleidsonsekerheid en dat bestaande beleide nie konsekwent toegepas word nie. Ons doen ons bes om dit reg te stel.

“Ons het ’n oopdeurbeleid en verwelkom voorstelle van die private sektor. Ons kort egter nie rusbank-kritici nie, maar mense wat inspring om te help. Die regering, die burgerlike samelewing en die private sektor moet saamwerk om die land te laat werk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.