Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Prasa betaal miljoene aan verkeerde maatskappy, hoor Zondo

Die Passasierspooragentskap (Prasa) het binne 11 dae nadat ’n tender vir die verskaffing van lokomotiewe onreëlmatig toegeken is, ’n verstommende eerste betaling van R460 miljoen gedoen aan ’n frontmaatskappy wat geen agtergrond gehad het in die spoorvervoerbedryf nie.

Boonop is dié betaling nie eens aan die regte maatskappy gedoen met wie die tender aangegaan is nie.

Dan was daar die verdere skandaal van die lokomotiewe wat gelewer is en glad nie op Suid-Afrika se spoorlyne pas nie.

Ryan Sacks, direkteur van Crowe Forensics, wat ’n ondersoek gedoen het oor Prasa se kontrak met die maatskappy Swifambo Rail Leasing, het Woensdag hieroor getuig voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Ryan Sacks, direkteur van Crowe Forensics, wat ’n ondersoek gedoen het oor Prasa se kontrak met die maatskappy Swifambo Rail Leasing, getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Swifambo het op 25 Maart 2013 die tender losgeslaan en het op 5 April, 11 dae later, die eerste betaling van R460 miljoen gekry. Die betaling is egter in die bankrekening van Swifambo Holdings betaal, wat nié eens in die kontrak genoem word as die entiteit aan wie Prasa die tender toegeken het nie (dit is aan die ander frontmaatskappy Swifambo Rail Leasing toegeken).

Sacks het getuig sy forensiese ondersoek het gewys dat Swifambo Rail Leasing geskep is met die doel om die tender vir die verskaffing van die lokomotiewe van Prasa te kry.

Volgens ’n beëdigde verklaring deur Popo Molefe, oudvoorsitter van die Prasa-direksie, het Swifambo geen geskiedenis gehad in spoordienste nie, nie vantevore werk gedoen vir Prasa nie, en geen koste aangegaan om die lokomotiewe te vervaardig nie. Dit was bloot ’n middelman wat ’n tender van R3,5 miljard van Prasa verkry het.

Van die eerste bedrag van R460 miljoen wat Prasa aan Swifambo betaal het, is daar eers 116 dae later ’n bedrag van R280 miljoen aan die ware verskaffer van die lokomotiewe, die Spaanse maatskappy Vossloh Espana, oorbetaal.

Sacks het getuig R150 miljoen van die eerste betaling deur Prasa is aan ander individue of entiteite uitbetaal.

afro4000-lokomotief
Die omstrede Afro4000-lokomotief.

Afro4000-lokomotief
Die Afro4000-lokomotief was te hoog vir Suid-Afrikaanse spoorlyne.

Uiteindelik is R900 miljoen in Swifambo Holdings se rekeninge inbetaal deur Prasa – en dit aan die verkeerde maatskappy en nie die een wat die tender gekry het nie.

Die lokomotiewe wat in die tender beskryf is, is ook nie die lokomotiewe wat gelewer is nie.

Sacks het getuig die ooreenkoms was dat Swifambo, sonder om enige werk daarvoor te doen, ten minste R330 miljoen se wins uit die lokomotiefkontrak gemaak het. “En dit boonop vir die verkeerde treine.”

Van die betalings wat Sacks uitgewys het, volgens besonderhede van Swifambo se bankrekeninge, is daar R150 000 aan die Jacob Zuma-stigting betaal, asook R500 000 aan Sanco. Daar is nie bevestiging wie werklik die geld ontvang het nie.

Die kommissie hoor Donderdag verdere getuienis oor die lokomotief-kontrak.

• Ryan Sacks getuig vandag verder. Volg die regstreekse uitsending van die Zondo-kommissie se sitting hier.

Meer oor:  Ryan Sacks  |  Zondo-Kommissie  |  Prasa  |  Lokomotiewe  |  Staatskaping  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.