Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Prasa-betalings gemaak vir ‘ongeldige’ eise – Zondo

’n Man wat graag na homself as “doktor” verwys het en die voormalige ingenieurshoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) was, het sommer mondelings ’n ooreenkoms van R17 miljoen met ’n Prasa-kontrakteur goedgekeur.

Madimpe Mogashoa, ’n prokureur wie se dienste deur Prasa gebruik is, het Woensdag voor die Zondo-kommissie getuig. Foto: Skermgreep

Daniel Mtimkulu, die ingenieurshoof op wie se CV gestaan het hy het ’n doktorsgraad in ingenieurswese, se jaarlikse salaris is deur die destydse Prasa-groephoof, Lucky Montana, tot R2,8 miljoen verhoog kort nadat hy by die maatskappy aangestel is. Hy moes ná ’n hofsaak waarin bevind is hy het gejok oor sy kwalifikasies sy salaris terugbetaal.

Mtimkulu se naam is Woensdag in getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping deur Madimpe Mogashoa, ’n prokureur wie se dienste deur Prasa se regsafdeling gebruik is, genoem.

Mogashoa het getuig oor ’n aantal eise deur die maatskappy Siyaya DB Consulting Engineers wat om verskeie redes deur Prasa se regsafdeling teengestaan is. Van die redes waaroor Mogashoa getuig het, sluit in:

• Dienste is nie gelewer vir eise wat deur Siyaya ingedien is nie;

• Eise is ingedien vir werk wat glo gedoen is in ’n tydperk toe Siyaya se kontrak met Prasa reeds verstryk het;

• Eise is ingedien vir werk wat glo gedoen is en wat glad nie eens deel was van die Prasa-kontrak nie; en

• In die een geval waarby Mtimkulu betrek is, is ’n eis vir R17 miljoen glo ingedien op die blote gronde van ’n mondelinge ooreenkoms. Die mondelinge ooreenkoms is glo op 4 Maart 2013 aangegaan, maar Prasa se prokureurs het die betaling geweier en gesê Mtimkulu het nie die reg gehad om die ooreenkoms aan te gaan nie.

Woensdag se getuienis oor die Siyaya-eise is deel van die groter ondersoek na beweerde korrupsie in die tyd toe Montana hoof van Prasa was.

In die geval van die Siyaya-kontrakte word ’n bewering ook deur die kommissie ondersoek dat die Pretoriase regter, Tintswalo Makhubele, in haar tyd as waarnemende Prasa-raadsvoorsitter onregmatig ingemeng het sodat Prasa ’n eis van R59 miljoen aan Siyaya betaal. Makhubele ontken alle bewerings teen haar.

Daar is in vorige getuienis voor die kommissie aangevoer dat die interne regsafdeling van Prasa opsygeskuif is deur Makhubele in die hantering van die hofsaak oor die R59 miljoen.

Mogashoa het Woensdag hieroor getuig hy het op 15 Desember 2017 in ’n vergadering met Makhubele ’n mondelinge opdrag van haar gekry dat hy nie meer direk met Prasa se regspan oor die Siyaya-eis mag kommunikeer nie. Makhubele het in haar getuienis dié gesprek herhaaldelik ontken.

Mogashoa het verder aangevoer Makhubele het sy regsfirma opdrag gegee om die betaling van die Siyaya-eis af te handel en dat Siyaya betaal moet word.

Meer oor:  Zondo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.