Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Prasa se Lucky Montana wil 'almal' voor Zondo ontbloot

Lucky Montana, omstrede voormalige uitvoerende groephoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), dreig om almal – insluitend die ANC en van sy leiers wat na bewering vir die bedrog, korrupsie en algemene verval by die sukkelende staatsentiteit verantwoordelik is – voor die Zondo-kommissie te ontbloot.

Montana sê die krisis wat Prasa die afgelope jare verswelg, kan regstreeks verbind word aan die voortslepende stryd vir beheer oor die hernuwingsprogram vir treine, wat tussen R53 miljard en R60 miljard werd kan wees.

Hy skryf só in ’n brief aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, waarin hy homself van middel Augustus beskikbaar stel om voor die kommissie te getuig.

Montana sê verder hy is van plan om voor die kommissie te getuig oor sy termyn van 2005 tot 2015 by Prasa en dié se voorganger, die Suid-Afrikaanse Spoorpendelkorporasie.

Lucky Montana. Foto: Daily Sun

Hy beplan om in sy getuienis ’n wye reeks kwessies uit te lig oor onder meer die oorsake van die krisis, sy besluit om in Maart 2015 uit Prasa te bedank en oor die sleutelfigure wat die kern vorm in die huidige verval by Prasa, “sowel as die rol van die ANC en sommige van sy leiers”.

Hy wil ook getuig oor beweerde bedrog en korrupsie by Prasa, verskeie interne ondersoeke daaroor, sowel as die destydse verslag van die openbare beskermer (OB) oor beweerde tenderknoeiery by Prasa.

Volgens hom sal hy toon dat die verval by Prasa die afgelope vier jaar regstreeks verbind kan word aan ’n massiewe stryd vir beheer oor Prasa se treinhernuwingsprogram van miljarde rande.

“Diegene wat beweringe van staatskaping of korrupsie maak, is feitlik die mees korrupte. Prasa is nooit gekaap deur enige magte tydens my termyn nie.”

Volgens Montana is dit veral oudminister Trevor Manuel se getuienis voor die Zondo-kommissie op 28 Februarie wat hom “regtig gedryf het om voor die kommissie te getuig”.

Hy stem saam met Manuel dat daar versigtig gekyk moet word na elk van die staatsentiteite, wat daar verkeerd gegaan het en wie toe in die onderskeie direksies gedien het.

Montana sê hoewel hy nie in die kommissie geïmpliseer is nie, glo hy sy getuienis kan die kommissie in sy mandaat help.

Vroeër is berig hoe adv. Thuli Madonsela, die voormalige OB, in 2015 in haar verslag oor tenderknoeiery by Prasa, getiteld “Derailed”, onder meer bevind het hoe ’n kultuur van wanadministrasie onder Montana se leierskap van Prasa daartoe gelei het dat miljarde rande se tenders sedert 2012 onbehoorlik en onwettig toegeken is.

Die Zondo-kommissie se werksaamhede word op 12 Augustus hervat.

Meer oor:  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie  |  Prasa  |  Lucky Montana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.