SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Pravin: Bongo moet ophou met sy sprokiesverhale

Adv. Bongani Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid, moet dalk regsadvies inwin vir ’n waardige reaksie op die strafregtelike aanklagte teen hom, in plaas daarvan om “verregaande sprokiesverhale” op te maak.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se woordvoerder, Sam Mkokeli, het Vrydag so gereageer nadat Bongo daarop gesinspeel het dat Gordhan hom probeer vergiftig het.

Bongo het dié uitlatings Donderdag in ’n onderhoud aan eNCA gemaak nadat hy vroeg dieselfde oggend deur die Valke in hegtenis geneem en later in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte van korrupsie verskyn het. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Hy het in dieselfde onderhoud beweer dat Ace Magshule, sekretaris-generaal van die ANC, ook in hegtenis geneem sal word.

Bongani BongoFoto: Daily Sun

Mkokeli sê Bongo se uitlating is “eenvoudig onsinnig”.

“Mnr. Bongo moet ophou om te hallusineer en moet eerder in die spieël kyk om te sien wat presies hy gedoen het om in hegtenis geneem te word. Hy sal dalk die hulp van ’n prokureur nodig hê om hom te help met ’n waardige reaksie op die amptelike strafregtelike aanklagte, in plaas van verregaande sprokiesverhale,” sê Mkokeli.

“Dit is onwaarskynlik dat mnr. Gordhan onlangs ’n substantiewe vergadering met mnr. Bongo sou gehad het. Bongo is nie een van die mense waarmee Gordhan oor die algemeen interaksie sou hê nie omdat hy die vinnige toepassing van die regering se planne dryf om die ekonomie te versnel . . .”

Die klagte teen Bongo, ’n senior ANC-LP, spruit uit sy beweerde poging in November 2017 om adv. Ntuthuzelo Vanara, getuienisleier in die parlementêre ondersoek na beweerde ongerymdhede by Eskom, om te koop. Bongo het Vanara na bewering ’n “blanko tjek” aangebied om siekteverlof te neem op die dag waarop die ondersoek begin het, in ’n poging om dit te ontspoor. Vanara het egter sy seniors daarvan ingelig waarop die ondersoek deur die Valke gevolg het.

Bongo het in die eNCA-onderhoud gesê die klagte teen hom is ’n versinsel en deel van ’n komplot wat nog altyd bestaan het dat diegene wat nie die status quo ondersteun nie, verwyder moet word.

“Ek sê dit omdat toe ek die ander dag in die parlement was, het ek Pravin Gordhan daar raakgeloop. Hy het aan my gesê ek werk saam met die openbare beskermer en die EFF om hom te diskrediteer en dat ek sal sien wat met my sal gebeur,” sê Bongo.

“Daarna het die vergiftiging gekom en ná dit was die SAID (Suid-Afrikaanse Inkomstediens) op my saak. Nou is dit dié klag. So ek beskou dit as deel van ’n komplot om my integriteit en naam te diskrediteer.”

Agt inhegtenisnemings gaan glo nog volg.

“Nie net ek nie, maar agt van ons, insluitende die sekretaris-generaal van die party, sal in hegtenis geneem word, volgens my inligting.”

Bongo het ’n reis na Kuba waar hy behandeling vir die beweerde vergiftiging sou ontvang, kortgeknip nadat die polisie hom gekontak het.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kon nie dadelik Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

Bongo het Vrydag by navraag gesê hy is geadviseer om nie meer onderhoude toe te staan nie. Hy staan by die onderhoud wat hy met eNCA gehad het.

Meer oor:  Bongani Bongo  |  Pravin Gordhan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.