Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Pravin, Eskom midde-in ANC-magspel

’n Magspel heers in die ANC met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en die Eskom-krisis aan die kern daarvan.

’n Politieke kenner meen die mate waarin pres. Cyril Ramaphosa dié bondgenoot van hom die naweek kan beskerm, sal ’n lakmoestoets vir sy presidentskap wees.

Oproepe uit onder meer die EFF, Cosatu en Numsa het vroeër opgeklink vir Ramaphosa om van Gordhan ontslae te raak weens die elektrisiteitskrisis en benarde toedrag van sake by van die ander staatsentiteite.

Die ekonomie en stand van staatsentiteite was die afgelope naweek hoog op die agenda van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) in Pretoria. Die ANC sal Maandag op ’n geskeduleerde mediakonferensie inligting daaroor verskaf.

Tweespalt in die ANC

Dr. Ralph Mathekga, politieke ontleder, het Sondag gesê tweespalt in die ANC en die feit dat Ramaphosa omring word deur mense wat hom nie goedgesind is nie, is welbekend.

“Mense wil weet of hy Gordhan kan beskerm. Hy is onder beleg en mense wil dit as ’n lakmoestoets gebruik vir sy presidentskap. Gordhan is nie ’n gewone minister nie, maar ’n sleutelbondgenoot van die president. As iemand soos hy val, beteken dit ’n grensmuur is oorgesteek. Die belangrikste ding hier is om te verseker dat Gordhan veilig is.

“Die punt waar ons nou is, is waar kompromieë aangegaan word. Dit is egter belangrik om op te merk dat selfs diegene wat nie van Gordhan hou nie, sy belangrikheid in die kabinet besef en hom nie heeltemal sal wil uitkry nie, maar hom wil neutraliseer en polities wil verswak.”

Die net trek nouer

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, sê die net trek al nouer om “die skelms, booswigte, lawaaimakers en staatskapers – hul tyd raak min en hulle weet dit. Dis hoekom hulle nou vuil speel”.

“Dit is nou tyd om koelkop te bly, strategies slim te speel, hulle te uitoorlê en die kalklig te vermy.

“Cyril Ramaphosa se stilswye word tans as swakheid deur die nuusmedia beskou. Dit is tans tyd vir beplanning en bosberade in die aanloop tot die staats- en begrotingsrede. Dit is ’n strategiese tyd. In 2020 gaan dinge nog baie verander in moeilike omstandighede, maar teen Desember 2020 sal Ramaphosa steeds president wees.”

Interne selfontbranding

Sanusha Naidoo, politieke ontleder aan die Institute for Global Dialouge, sê Ramaphosa bevind homself in ’n moeilike posisie ten opsigte van waar hy die land wil posisioneer en sy pogings om die strukturele krisisse in staatsentiteite reg te ruk, dienslewering te verseker en vermorste uitgawes uit te roei. Hy kry dit nog nie reg nie.

“Wat jy vind, is dat die “interne selfontbranding” van die party deel geword het van die verrotting.”

Ramaphosa het volgens Naidoo ook nie ’n A-klas-kabinet nie en boonop bestaan die burokrasie in bykans alle regeringsfere steeds soos onder oudpres. Jacob Zuma.

“Ramaphosa is nie ’n towenaar wat die situasie kan omdraai en verandering bewerkstellig nie. Wat jy wil hê, is ’n president wat daadwerklik optree. Aan die een kant sê hy dat daar geen beurtkrag meer gaan wees nie, maar tog het dit gebeur.”

Naidoo glo ’n kabinetskommeling, waarskynlik ná die begrotingstoespraak in Februarie, is ’n moontlikheid.

“Die vraag is wat gaan gebeur met die minister van openbare ondernemings.”

Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal, het die tweedaagse vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee as een van die bestes beskryf wat die party nog gehad het, berig EWN.

Besprekings rondom kwessies wat met Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die grondkwessie verband gehou het, was volgens Magashule vriendelik. "Daar was nie enige gevegte nie. Ek dink die president het weer eens die kwessie van 'n bevoegde staat, dissipline en eenheid beklemtoon."

Meer oor:  Theo Venter  |  Pravin Gordhan  |  Anc  |  Eskom  |  Anc-Magspel  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.