Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Pravin se toekoms nié deur NUK bespreek, sê ANC
Pres. Cyril Ramaphosa (regs), die ANC-leier, en Gwede Mantashe, voorsitter, in ligte luim op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Irene buite Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Die toekoms van die beleërde Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, sal nie dié naweek op die vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC in Irene buite Pretoria bespreek word nie.

Só het Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, Vrydagmiddag aan joernaliste gesê.

’n Twitter-plasing van Tito Mboweni, minister van finansies, Vrydag waarin hy laat blyk het dat hy uittrede oorweeg, sal ook nie bespreek word nie.

Mboweni het die vermoede laat ontstaan dat hy moontlik kan uittree toe hy geskryf het het die politieke geskiedenis wys dit is nie ’n goeie ding om ’n amp te lank te beklee nie.

“Anders as lojaliteit, kan jy op ’n onwaardige wyse uit die presidensiële paleis geskop word. Dit is beter om grasieus uit te tree.”

Pres. Cyril Ramaphosa (naasregs), Ace Magashule (heel links), sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, voorsitter, en Paul Mashatile, tesourier-generaal, op die vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee in Irene buite Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Mboweni het ontspanne voorgekom en met joernaliste geskerts.

Hy het teenoor die SAUK ontken hy oorweeg dit om te bedank en gesê hy het na diktators verwys.

Oor Mboweni se Twitter-plasing het Mabe gesê “Twitter is nie ’n tak van die ANC nie”.

Die ANC sal daarom nie kommentaar lewer oor wat hy op Twitter geskryf het nie.

“Ons sal dit slegs doen as ’n lid van die ANC die besluite van die ANC ondermyn.”

Tito Mboweni, minister van finansies, op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Foto: Sarel van der Walt

Die ANC het Mboweni vroeër vandeesweek op die vingers getik oor ’n uitlating van hom op Twitter dat die nasionalisering van die Reserwebank ’n swak idee is.

“Die aanstelling van lede van die kabinet is die pregoratief van die president en nie die NUK nie. Die NUK het nog nooit die posisies van ministers bespreek nie,” het Mabe gesê.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Vrydagmiddag op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Irene buite Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Gordhan is onder groot druk van ’n faksie binne die ANC, vakbonde en die EFF om die tuig neer te lê oor sy hantering van onder meer Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Hy geniet nog die steun van onder andere pres. Cyril Ramaphosa, ’n groot deel van die NUK, en die ANC-veterane.

Ramaphosa se toekoms is self onseker.

Daar is al hoe meer sprake dat daar faksies in die ANC is wat hom probeer uitwerk.

Op die oog af het die president minder ontspanne gelyk as met vorige NUK-vergaderings. Hy het nogtans soos gewoonlik vriendelik vir die kameras gewaai toe lede van die media vir ’n minuut of twee in die vergadersaal toegelaat is.

Hoewel Gordhan se toekoms nie bespreek sal word nie, sal die ekonomie en die situasie met staatsondernemings – insluitende Eskom en die SAL – onder die loep geneem word, het Mabe gesê.

“Dit is een van die belangrikste sake op die sakelys. Kameraad Pravin sal verslag doen.”

Mabe wou nie sê of die moontlikheid dat dié staatsondernemings van die departement van staatsondernemings teruggeneem sal word na hul oorspronklike departemente nie.

Hy het ook gesê “kwessies oor faksies” was nog nooit ’n besprekingspunt op NUK-vergaderings nie.

“Die NUK sal ook voorberei vir die lekgotla wat Sondag begin,” het Mabe gesê.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, en Jackson Mthembu, ’n minister in die presidensie, Vrydagmiddag op die vergadering van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC.Foto: Sarel van der Walt

Die omstrede kwessie oor die verandering van art. 25 van die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak, is ook ’n besprekingspunt.

Mathole Motshekga, ’n lid van die NUK en voorsitter van die parlementêre komitee wat dié moontlikheid ondersoek, sal aan die NUK verslag doen oor die jongste stand van sake.

Die publiek het nog tot 31 Januarie om oor dié kwessies – waaroor die ANC self erg verdeeld is – kommentaar te lewer.

Die nuwe distriksontwikkelingsmodelle wat deur die regering in die vooruitsig gestel word, sal ook deur die sowat 100 lede van die NUK bespreek word.

Ander sake wat in die sogenaamde 8 Januarie-verklaring van die party verlede naweek in Kimberley genoem is, is ook op die sakelys, het Mabe gesê.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Anc  |  Nuk  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.