Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Pravin verwerp EFF se bewerings teen hom

Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, verwerp nadruklik die EFF se beweringe dat hy oneerlik is oor sy gesprekke met die omstrede Guptas.

Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, het Vrydag bygevoeg dat “die minister tans met sy prokureurs konsulteer vir behoorlike regsadvies oor hoe om die beste op die EFF se bewerings te reageer”.

Dit volg nadat die EFF op grond van inligting in ’n uitgelekte beëdigde verklaring wat Gordhan by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien het, Donderdag ’n klag teen hom by die openbare beskermer (OB) ingedien het.

Lackay sê Gordhan sal ingevolge die kommissie se regulasies nie op die inhoud van die beëdigde verklaring kommentaar lewer nie.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, se kantoor het die EFF se klag bevestig.

Pravin GordhanFoto: DENZIL MAREGELE

Die EFF glo weens inligting in die beëdigde verklaring dat Gordhan nie in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van die dié party in 2016 verklaar het dat hy in 2010 as minister van finansies met Ajay Gupta en Anil Ambani, ’n miljardêr Indiese sakeman, vergader het nie.

Die EFF beweer voorts dat deur dit nie in sy destydse parlementêre antwoord te verklaar nie, Gordhan die etiese kode vir kabinetslede, sy ampseed en die Grondwet oortree het.

Politieke ontleders meen egter die EFF is heeltemal voortydig met sy klag by die OB omdat Gordhan nog nie eens voor die kommissie getuig het nie. Hy is veronderstel om op 15 November 2018 te getuig.

Prof. Bheki Mngomezulu, ’n politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, en Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, meen albei die feit kan ook nie geïgnoreer word dat die EFF sedert Gordhan se dae as minister van finansies ’n persoonlike vendetta teen hom voer nie.

Mngomezulu sê die EFF reageer boonop op ’n uitgelekte verklaring en moes eers gewag het totdat Gordhan daaroor voor die kommissie getuig het.

“As hulle daarna voel dat hy nie die volle waarheid onder eed gepraat nie, kan hulle verdere stappe oorweeg. Sulke stappe moet eers alle beskikbare parlementêre kanale insluit voordat hulle die OB daaroor nader.”

Mathekga het bygevoeg dat die EFF se optrede hoogs verwarrend is, “veral omdat hulle deesdae met hul optrede die aandag wil weglei van interne skandale”.

“Sedert die VBS-skandaal (wat die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, ook betrek) maak baie van die EFF se standpunte oor korrupsie nie meer sin nie.

“Dit lyk of dit meer vir hulle daaroor gaan om politieke munt vir die party te slaan. Dit laat ’n mens wonder of hul standpunt teen korrupsie geloofwaardig is.

Dit lyk of dit meer vir hulle daaroor gaan om politieke munt vir die party te slaan. Dit laat ’n mens wonder of hul standpunt teen korrupsie geloofwaardig is

“Dit word verder vererger omdat hulle deesdae ook vir Tom Moyane, (die afgedankte kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens) en Gordhan se aartsvyand, verdedig. Daarom kan daar met reg gevra word of die EFF dalk in belang van sekere faksies in die ANC optree,” sê Mathekga.

Intussen het adjunkhoofregter Raymond Zondo Vrydag in ’n verklaring gesê die kommissie ondersoek hoe die Gordhan-verklaring uitgelek het. Hy het ook gewaarsku dat dit ’n strafregtelike oortreding is om enige verklaring voor die kommissie sonder sy toestemming openbaar te maak of te publiseer.

Die kommissie hervat Maandag sy verrigtinge met Barbara Hogan, ’n voormalige minister van openbare ondernemings, wat sal getuig.

Meer oor:  Floyd Shivambu  |  Pravin Gordhan  |  Eff  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.