Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Premier berispe LUR oor ras-uitlatings
David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Argief

David Makhura, premier van Gauteng, het Faith Mazibuko, LUR vir sport, kuns en kultuur, te midde van toenemende eise dat sy bedank, “tereggewys” oor haar gedrag teenoor haar personeel.

Makhura het Vrydag gesê hy het met Mazibuko vergader ná die onthulling van ’n klankopname waarop Mazibuko gehoor kan word waar sy rasgerigte, neerhalende opmerkings teen twee van haar senior personeel gebruik met die doel om tenderprosesse te verontagsaam en sportgeriewe vóór die algemene verkiesings gebou te kry.

Makhura het in ’n sterk bewoorde verklaring gesê dat hy nie “rassisme en seksisme” in die provinsiale administrasie sal verdra nie” en dat Mazibuko se optrede “totaal onaanvaarbaar en strydig is” met wat hy van ’n LUR verwag.

“Die uitlatings van die LUR Faith Mazibuko teenoor die departementshoof (’n wit vrou) en finansiële hoof (’n Indiërvrou) is totaal onaanvaarbaar en strydig met wat ek van LUR’e verwag.”

Makhura het gesê dat hy die twee vroue oor die saak sal spreek.

AmaBhungane se berig vroeër oor die uitgelekte opname het ’n herrie ontketen. Die opname is gemaak is tydens ’n vergadering in Februarie waar Mazibuko druk uitgeoefen het op haar uitvoerende personeel om tenderprosedures te laat vaar om veeldoelige sportfasiliteite voor die verkiesing gebou te kry.

Mazibuko het aan haar personeel gesê haar departement is die enigste wat ’n wit vrou as departementshoof en ’n Indiërvrou as hoof van finansies het en dat die twee dankbaar moet wees dat hulle werk in die regering het.

“Ek het interaksie met die LUR gehad, haar berispe oor haar uitlatings en sy het gevolglik ’n verklaring uitgereik waarin sy in die openbaar om verskoning vra. Ek neem kennis van die feit dat die regerende party die kwessie na hul integriteitskomitee verwys het. Dit is ’n belangrike stap in die interne prosesse van die ANC,” het Makhura gesê. Die ANC in Gauteng het Donderdag gesê hulle sal Mazibuko voor sy integriteitskomitee daag om haar optrede te verduidelik.

Mazibuko het die twee vroue in die verklaring om verskoning gevra vir die “onbehoorlike taal” wat sy teen die twee gebruik het.

Faith Mazibuko. Foto: Daily Sun

“Ná diep, persoonlike nadenke wil ek onvoorwaardelik om verskoning vra vir die toon en onbehoorlike taal wat ek teenoor my departementshoof en finansiële hoof gebruik het,” lui haar verklaring.

Die Ahmed Kathrada-stigting het egter Donderdag ’n beroep om Makhura gedoen om Mazibuko te ontslaan as LUR.

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die stigting, het gesê dít is “presies die soort houding wat Mazibuko getoon het wat gelei het tot die Life Esidimeni-tragedie, waar staatsamptenare deur hul politieke hoofde onder druk geplaas is en wat gelei het tot onbehoorlike en onetiese besluitneming”.

“Ons het die vernietigende gevolge van die tragedie aanskou, tog dink die LUR Mazibuko dit is in die haak om amptenare te boelie om behoorlike prosedures te omseil.”

Die VF Plus het Vrydag gesê Makhura moet Mazibuko onmiddellik afdank.

“Die provinsiale wetgewer is ’n nierassige instelling en die VF Plus voel dat Mazibuko nie meer ’n plek daar het nie. Mazibuko het ook die etiese kode van wetmakers deur haar optrede oortree,” het die party in ’n verklaring gesê.

Meer oor:  Faith Mazibuko  |  David Makhura  |  Rassisme  |  Lur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.