SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Premier eis dat Jhb-burgemeester gekies word

Die Johannesburg-metroraad beter Woensdag ’n nuwe burgemeester kies om te verhoed dat die provinsiale regering ingryp.

David Makhura, Gautengse premier, sê in ’n verklaring dit is onhoudbaar dat daar geen “bestuur” in die land se ekonomiese hoofstad is nie.

“Ek wil waarsku dat as die metroraad nie op 4 Desember ’n burgemeester kies nie, ek hulle sewe dae sal gee om dit te doen. As hulle in gebreke bly, sal die provinsiale regering beslissend tussenbeide tree.”

Dié waarskuwing kom voor ’n belangrike raadsvergadering Woensdag om ’n burgemeester te verkies in die plek van Herman Mashaba, wat einde November bedank het.

’n Raadsvergadering wat geskeduleer was om ’n plaasvervanger vir Mashaba te kies, is verlede week deur Vasco da Gama, speaker van die metroraad, uitgestel weens ’n gebrek aan duidelikheid oor wat ’n meerderheid in die metroraad daarstel.

Die raad het 270 setels, en een setel is vakant ná die dood van raadslid David Monamodi.

Da Gama het gesê hy wil ’n regsmening kry oor die korrekte vertolking van art. 7 van die Wet op Munisipale Strukture oor wat ’n meerderheid daarstel.

Makhura het ook ’n paar woorde vir die leierskap van die Tshwane-metroraad gehad.

“Daar is administratiewe en bestuurschaos in die stad en alle opnames wys daarop dat dienslewering ’n knou gekry het en inwoners ly daaronder. Daar is algehele wanbestuur in die stad, wat openbare vertroue geskend het,” sê Makhura.

Dit kom te midde daarvan dat Stevens Mokgalapa, wie se spesiale verlof herroep is, nou deur ’n mosie van wantroue in die gesig gestaar word.

Die ANC en die EFF het Maandag gevra dat Katlego Mathebe, speaker van die Tshwane-metroraad, ’n raadsvergadering byeenroep sodat mosies van wantroue teen haar en Mokgalapa se leierskap ingestel kan word.

Mokgalapa is in die spervuur oor ’n klankopname van hom en Sheila Senkubuge, voormalige burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, wat verlede week opgeduik het. Hierin word gehoor hoe hulle oor kollegas in hul eie party skinder en maniere bespreek om ander kollegas af te dank.

Meerderheid ís 50% plus een

Intussen het Da Gama Dinsdag gesê die stad het ’n regsmening van Advocates Group 21 gekry dat ’n meerderheid in die raad inderdaad 50% plus een is.

Da Gama sê dit is wat die metroraad se reëls stipuleer, maar die Wet op Munisipale Strukture was dubbelsinnig hieroor.

“Ja, ons het ’n regsmening gekry en die raad kan normaalweg voortgaan. ’n Meerderheid is 50% plus een,” het Da Gama gesê.

Funzela Ngobeni, die DA se burgemeesterskandidaat, sê hy hoop “gesonde verstand sal seëvier” en dat ’n nuwe burgemeester Woensdag aangewys sal word.

“Ons moet die inwoners se belange eerste stel. As dit ’n ANC- of ’n EFF-burgemeester is, laat dit dan so wees. Ons kan nie die stad as gyselaar neem weens ons verskille nie.”

Jolidee Matongo, streekwoordvoerder van die ANC, sê dié party is vol vertroue dat ’n ANC-burgemeester aangewys sal word.

“Ons is seker ons het dit in die sakkie,” het hy gesê.

Musa Novela, die EFF se burgemeesterskandidaat, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.