Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Premier erken ekonomie het hupstoot nodig
Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier, en lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, by die opening van die provinsiale rede in Bhisho. Foto: Verskaf

Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier, het erken dat die provinsie se ekonomie nie is wat dit behoort te wees nie, en dat die werkloosheidsyfer voortdurend hoog bly.

In sy provinsiale rede Vrydag in Bhisho het hy ook bekend gemaak dat daar slegs 1,7% ekonomiese groei teen 2019 voorspel word.

Ondanks dié vooruitsig het Masualle klem gelê op die ontwikkeling van behuising en onderwysstelsels en die provinsie se padnetwerk wat opgegradeer moet word.

Hy sê hoewel die werkloosheidsyfer kommerwekkend hoog is, het die provinsie daarin geslaag om oor die afgelope vier jaar meer as 508 000 werksgeleenthede deur sy uitgebreide openbarewerke-program te skep.

Met verwysing na menslike nedersettings het Masualle gesê dat hulle wegbeweeg het van ’n tydperk van onderbesteding. Sedert die boekjaar van 2014-’15 tot en met die derde kwartaal van 2017-’18 is 47 453 laekostehuiseenhede gebou. ’n Verdere 8 870 huise sal in die komende boekjaar gebou word.

In samewerking met Sanral word naastenby R7 miljard se padwerke en opgraderings in die provinsie gedoen. ’n Verdere R5 miljard word vir projekte oor die volgende vier boekjare begroot.

In samewerking met Sanral word naastenby R7 miljard se padwerke en opgraderings in die provinsie gedoen.

Aandag word veral aan die N2 by Qumbu, Mthatha, Butterworth en Mount Frere gegee.

Wat die onderwys betref, het Masualle gesê hy is trots op die matriekklas van 2017 en tevrede met sy slaagsyfer van 65%, teenoor die vorige jaar se 59,3%.

Die provinsie sal op die ontwikkeling van onderrig in wiskunde en wetenskap fokus, asook professors uit Kuba inbring om met die twee sogenaamde probleemvakke te help.

Digitale transformasie in die onderwysdepartement sal ook aandag kry.

Volgens Masualle is daar bewyse dat die provinsie die geveg teen tuberkulose (TB) wen. Hy sê in 2014 is 697 gevalle per 100 000 mense aangemeld, terwyl dit in 2017 op 571 per 100 000 gestaan het. Nuwe inisiatiewe sal in werking gestel word om TB vroeër te diagnoseer en behandel.

Intussen is 11 mediese geriewe in die provinsie geprioritiseer vir opknappingswerk.

Masualle het die nasionale regering bedank vir die beskikbaarmaking van nasionale hulpbronne teen die voortslepende droogte.

Die departement van samewerkende regering sal vir die ontwikkeling van ’n samevattende plan teen rampe in die provinsie verantwoordelik wees.

In reaksie op Masualle se provinsiale rede het Bobby Stevenson, Oos-Kaapse DA-leier, gesê die premier se rede het beswaarlik enigiemand geïnspireer om ’n totale verandering en vernuwing in die provinsie aan te wakker.

Hy het gesê meer besonderhede is nodig oor die droogteplanne van die provinsie in samewerking met die nasionale regering.

Die droogte is ’n massiewe probleem, wat ook ’n impak op beleggings in die Oos-Kaap het en toekomsplanne moet met die publiek gedeel word.

Stevenson meen die dreigende skommeling in die ANC in die provinsie het Masualle se toespraak oorskadu omdat die toespraak deur die spreekwoordelike dooie man gelewer is.

“Jy kan nie leiding bied as jy heeltyd oor jou skouer loer nie,” het Stevenson gesê.

Biskop Lievie Sharpley, Cope-leier in die wetgewer, het gesê Masualle moet vir die werk en vordering in die provinsie geprys word, maar dat Vrydag se toespraak bykans ’n herhaling van vorige jare se toesprake is.

“Dit is moeilik om opgewonde te raak as daar niks nuuts is nie. Elke dag lees ons van buitebande wat uit protes oor swak dienslewering brand. Dit is die gemeenskap se taal om te sê hy is ontevrede. Dit help nie daar is wonderlike planne, maar geen optrede nie.”

Hoewel Masualle genoem het dat hy die styging in misdaad opgelet het, meen Sharpley die premier kon meer uitgewei het oor wat sy plan is vir beter sekuriteit en polisiëring teen misdaad, veral wat landelike gebiede betref.

“Landelike inwoners woon tussen 70 en 80 km weg van hul naaste polisiekantoor. Polisielede kan nie na hulle uitgestuur word nie, want hulle het gewoonlik nie voertuie nie en dus gaan misdaad onveranderd voort.”

Nog ’n probleem in die landelike gebiede is die tekort aan mediese infrastruktuur en personeel, het Sharpley gesê .

“70% van ons provinsie se bevolking woon in landelike gebiede. Daar is klinieke wat die Panado-klinieke genoem word, want vir enige kwaal en pyn word Panado voorgeskryf, as hulle dit in voorraad het. Die gebrek aan voorraad van chroniese medisyne, die tekort aan dokters en opgeleide mediese personeel is iets wat ook dringend aandag moet kry.”

Max Mhlati, UDM-leier in die wetgewer, het Sharpley se mening oor bevoegde mediese personeel gedeel.

“As die provinsie daaraan kan aandag gee om genoeg en opgeleide mediese personeel aan te stel, sal die regseise teen die departement, wat tans ’n groot deel van die begroting opeis, ook verminder.”

Volgens Mhlati was dit ook vir hom duidelik dat Masualle se “verwaterde” toespraak weens die ANC se onstabiliteit en dreigende skommeling beïnvloed is.

Hy meen Masualle kan nie tevrede wees met die 2017-matriekslaagsyfer nie omdat die provinsie wéér die swakste in die land gevaar het.

“Ek wil meer weet as net dat professors van Kuba se hulp ingeroep word om wiskunde en wetenskap vir ons leerlinge aan te bied.”

Masualle het ook versuim om planne bekend te maak wat gemeenskappe sal aanmoedig om self by die landbousektor betrokke te raak.

“Te veel mense in die land maak staat op staatstoelaes. Hulle moet eerder projekte begin wat die gemeenskap weer op die lande sal kry om self kos en werk te skep.”

Meer oor:  Phumulo Masualle  |  Oos-Kaap  |  Ekonomie  |  Premier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.