Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Premier het geen visie vir Limpopo en moet bedank – DA
Stan Mathabatha, premier van Limpopo, Donderdag met die opening van die provinsiale wetgewer in Polokwane. Foto: Rudzani Tshikororo

Stan Mathabatha, premier van Limpopo, moet uit sy amp bedank.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo. Foto:

Só sê Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, nadat Mathabatha Donderdag in sy provinsiale rede die DA, die EFF én die VF Plus teleurgestel het.

“Hy is duidelik verwyderd van die werklikheid van wat in Limpopo aangaan,” sê Smalle.

Volgens hom het Limpopo van die hoogste werkloosheidsyfers in die land en die provinsie het verlede jaar die laagste matriekslaagsyfer in die land gehad.

Daar is ’n agterstand van sowat R20 miljard om infrastruktuur by skole in Limpopo te verbeter en in stand te hou.

Smalle sê verlede week is ’n leerling in Sekhukhune dood toe ’n boekrak op hom geval het. “Die premier het dit nie eens genoem nie.”

Mathabatha het Donderdag in sy toespraak, net soos verlede jaar, beloof dat ’n provinsiale kunsteteater in Limpopo opgerig gaan word. “Dit is niks minder as ’n droom nie,” sê Smalle.

Mathabatha het Donderdag gesê “ons sal ons sokkies moet optrek met die projek”.

Hy het gesê “die provinsie is op die regte pad” wat die matriekslaagsyfer aanbetref omdat daar in 1996 slegs 38% van gr. 12 leerlinge geslaag het in vergelyking met verlede jaar se 73%-slaagsyfer.

Stan Mathabatha, premier van Limpopo. Foto: Marietie Louw-Carstens

Mathabatha het geswyg oor die uitbreking van bek-en-klouseer in November naby Dendron. Boere het reeds miljarde rande se verliese gely. Die uitbreking van die gevreesde virussiekte het boonop gelei tot ’n landwye verbod op veeveilings. Thoko Didiza, minister van landbou en grondhervorming, het die verbod op veeveilings eers twee weke gelede opgehef.

Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, Smalle en Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, is al drie bekommerd oor die wagtydperk van twee jaar vir onkologiebehandeling by die Polokwane Provinsiale Hospitaal.

Mathabatha het Donderdag gesê een bykomende “kankermasjien” van R47 miljoen is aangekoop vir dié hospitaal en dat dit die wagtydperk sal verkort.

CT-skanderingsmasjiene is ook nou beskikbaar in die Mokopane-, Mankweng-, Tshilidzini- en Letaba-hospitaal, wat ook die druk sal verlig op die onkologie-eenheid in die Polokwane Provinsiale Hospitaal.

Die departement van samewerkende regering, behuising en tradisionele sake het verlede jaar slegs 6 232 van die beplande 10 456 huise gebou.

“Dit is duidelik dat die premier nie ’n visie vir Limpopo het nie en daarom moet hy die tuig neerlê,” sê Smalle.

Kenny Mathivha, woordvoerder van Mathabatha, het nie gereageer op die pleidooi van die DA nie.

Meer oor:  Stan Mathabatha  |  Limpopo  |  Premier  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.