Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Premier se kantoor in VS ‘oorbefonds, wys Ace se hand’
Sisi NtombelaFoto: Netwerk24

Die kantoor van die Vrystaatse premier is met ’n begroting van R625,7 miljoen vir die 2019-’20-boekjaar oorbefonds, en dit is steeds die bewys van hoe die vorige premier, Ace Magashule, op Stalinistiese wyse die provinsie gekaap het.

So het dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, Woensdag in die begrotingsdebat oor die premier, Sisi Ntombela, se kantoor gesê.

Jankielsohn het gesê die begrotings van die Vrystaatse tesourie is maar R367,6 miljoen en dié van die Vrystaatse wetgewer R266,2 miljoen.

Dr. Roy JankielsohnFoto: Argief

Hy het gesê Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC, het kaderontplooiing gebruik om sy “magtige politieke ryk” te bou.

Sy beheer oor die party in die provinsie as voorsitter van die ANC en later as premier, het nie net aan hom partypolitieke mag besorg nie, maar ook uitvoerende outoriteit oor die provinsiale regering.

Dévar SmitFoto: Facebook
Zanele Sifuba, speakerFoto: Argief

Jankielsohn sê Magashule en Ntombela se kinders baat ook steeds by staatstenders in die Vrystaat. “Mense soek ook dienste in die Vrystaat en wil nie net ’n bloulig-brigade sien wat in luukse ampsmotors rondjaag nie.”

Dévar Smit, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, het gesê hy wil graag die premier uitdaag om die Vrystaat te begin bou.

Hy sê dit gaan lank neem om die provinsie te herstel ná die chaos wat Magashule veroorsaak het.

“Die vorige premier het miljoene aan motors en duur ekspo’s bestee om dienslewering ten toon te stel, pleks daarvan om werklik die nodige dienste aan die mense te lewer. Daar is ’n agterstand met die toekenning van 15 000 titelaktes in die Vrystaat. Dit beteken dat die provinsiale regering grond besit wat eintlik aan die mense behoort.”

Mamiki Qabathe, Vrystaatse LUR vir maatskaplike ontwikkeling (ANC), het gesê die premier doen goeie werk en moet haar nie steur aan wat Jankielsohn en ander opposisielede van die wetgewer sê nie.

“Hulle word betaal om kritiek te lewer.”

Qabathe sê die premier moet dink dat sy ’n vrou is wat water met ’n emmer by ’n dam gaan skep. “Fokus op die water wat u wil skep, en nie op die paddas wat daar kwaak nie.”

Dimakatso Mahasa, Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en rekreasie, het gesê Jankielsohn se vrou het ’n kontrak van R1 miljoen van die regering gekry om net vir ’n paar mense kos te gee.

Jankielsohn het opgestaan en gesê sy vrou, dr. Astrid Jankielsohn, het nie so ’n kontrak gekry nie en dat dit ’n infame leuen is.

Zanele Sifuba, die speaker, het hierop vir Mahasa gevra of sy ’n persoonlike aanval op iemand se karakter gemaak het, waarop sy “nee” geantwoord het.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Staatskaping  |  Premier  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.