
Oscar Mabuyane, premier vir die Oos-Kaap, se amptelike foto as premier Foto: Facebook
Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, het hom gedistansieer van minstens drie Facebook-rekeninge onder sy naam wat sonder sy toestemming of medewete geskep is.
Hy meen dié ongemagtigde blaaie is moontlik met die oog op bedrog en kwade bedoelings geskep.
Mvusiwekhaya Sicwetsha, Mabuyane se woordvoerder, het in ’n verklaring gesê een van dié vals rekeninge het inligting gedeel oor geld wat aan mense verskaf word.
Volgens hom het die premier net twee amptelike Facebook-rekeninge. Op een daarvan is ’n profielfoto van oudpres. Nelson Mandela, terwyl die tweede rekening se profielfoto Mabuyane se amptelike premiersfoto is.
“Individue wat ons nie ken nie, gebruik die drie (vals) rekeninge en ons kan net aanvaar dat hul bedoeling is om mense te bedrieg,” het Sicwetsha gesê.
Die premier het die Facebook-maatskappy versoek om die vals rekeninge te verwyder. Hy het sy volgelinge versoek om nie hierdie vals rekeninge te volg nie.

Slegs die boonste en onderste rekeninge is amptelike Facebook-rekeninge van Oscar Mabuyane, die Oos-Kaapse premier. Die drie rekeninge in die middel van die groep soos op die skermgreep gesien, is vals rekeninge. Foto: Skermgreep