
Adv. Moipone Noko se bedanking het Maandag in werking getree.
Pres. Cyril Ramaphosa het adv. Moipone Noko, Noordwes se direkteur van openbare vervolging (DOV), se bedanking aanvaar.
Noko, een van die name wat in die sogenaamde De Kock-verslag genoem is, se bedanking het op 1 Maart in werking getree.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die De Kock-verslag aangevra nadat hulle in opdrag van adv. Shamila Batohi, NVG-hoof, ondersoek ingestel het na die ongegronde vervolgings in die Cato Manor-moordbende.
Genl.maj. Johan Booysen, afgetrede hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, en 26 ander mense is in 2012 in dié saak van rampokkery aangekla. Booysen is onder meer daarvan beskuldig dat hy ’n moordbende in KwaZulu-Natal bedryf het.
Noko was voorheen die vervolgingshoof in KwaZulu-Natal en is onlangs na die NVG in Noordwes verplaas.
Batohi het die vervolging in 2019 gestaak en ’n ondersoek aangevra.
Na aanleiding van die De Kock-verslag was daar kommer oor Noko se bevoegdheid om haar amp verder te beklee. Die president en Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het toe nog ’n ondersoek aangevra om vas te stel of sy nog bevoeg is.
Ramaphosa het in ’n skrywe, gedateer 9 Februarie vanjaar, Noko versoek om skriftelike redes te gee waarom sy nie geskors moet word nie, hangende die uitslag van hierdie ondersoek. Noko het op 14 Februarie toestemming gevra om eerder haar kantoor te ontruim.
Die nasionale direkteur van vervolgings het hierna Noko se versoek aan Ramaphosa gestuur met die aanbeveling dat Noko toegelaat moet word om te bedank.