Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘President is in die hoek, nie die OB’

Pres. Cyril Ramaphosa is die een wat tans in ’n hoek gedryf is deur die uitspraak van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), sê die politieke ontleder Ralph Mathekga.

Hy sê Ramaphosa het geen ander keuse nie as om gehoor te gee aan Mkhwebane se bevindinge en die regstellende stappe wat sy voorgestel het in verband met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Min. Pravin GordhanFoto: GCIS

Die OB het in haar ondersoek bevind Gordhan het destyds as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die Grondwet oortree toe hy toestemming gegee het vir ’n geheime spioenasie-eenheid.

Dié beweringe is vroeër al deur verskeie instellings ondersoek en grootliks gediskrediteer.

Mkhwebane het nietemin bevind Ramaphosa moet teen Gordhan optree en dat die vervolgingsowerhede verder ondersoek moet instel. Sy het streng spertye vir stappe voorgeskryf.

Gordhan en Ivan Pillay, voormalige adjunkhoof van die SAID, het albei aangedui dat hulle Mkhwebane se bevindings in die hof gaan betwis.

Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê die hele sage is deel van die magspel binne die ANC.

Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: Argief

“Ek dink nie die OB het al ’n greep op die president nie. Dinge sal nie vinnig gebeur nie omdat daar eers regsprosesse sal wees,” sê hy.

Mathkekga sê daar is ook slegte nuus vir dié wat dink die ANC-koukus in die parlement sal die OB uit haar pos ontslaan. Dít sal nie gebeur nie.

Duvenhage stem saam Mkhwebane sal nie maklik verwyder kan word nie. “Onthou, die ANC is verdeeld en die EFF sal nie haar verwydering steun nie.”

Die probleem wat Ramaphosa nou het, is dat die bevinding van die OB oor een van sy sleutelministers (minister van openbare ondernemings wat Eskom en Transnet insluit) sy aandag sal wegneem van die inwerkingstelling van belangrike besluite.

“Dit is die president wat op die oomblik in ’n hoek is, nie die OB nie.”

Duvenhage sê die magsbalans kan verander wanneer Ramaphosa sy kaarte speel.

“Ons het hom leer ken as iemand wat nie vinnig sy kaarte speel nie, maar wanneer hy dit doen, is dit finaal. Hy sál nog sy kaarte speel.”

Natasha Mazzone, DA-woordvoeder oor openbare ondernemings, het in ’n verklaring gesê Ramaphosa kan die OB se bevindinge nie ignoreer nie.

“Ten spyte van ons sienings oor haar geskiktheid, moet die integriteit van die OB se kantoor as ’n hoofstuk 9-instelling beskerm word.

“Om dié rede kan bevindinge van haar kantoor nie geïgnoreer word nie,” sê Mazzone.

Die EFF het vroeër reeds geëis Ramaphosa moet Gordhan afdank. Hy sê ook hy sal hom tot die hof wend om op te tree as Ramaphosa dit nie doen nie.

Die EFF sê voorts Trevor Manuel, wat destyds minister van finansies was, moet ook verantwoordelik gehou word omdat dit volgens die party onmoontlik is dat hy nie van die bestaan van die eenheid geweet het nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het op sy beurt in ’n verklaring gesê die indruk word gewek dat Mkhwebane se kantoor misbruik kan word in belang van interne faksiegevegte in die ANC.

Die VF Plus sal vra dat die parlement se portefeuljekomitee oor justisie se ondersoek na haar bevoegdheid bespoedig word.

“Mkhwebane se optrede, waar sy deurlopend uitsprake maak oor die SAID en volgens aanduidings jag maak op Gordhan, skep die indruk dat sy nie werklik objektief is nie, en dat sy moontlik gevoer word met vals inligting uit sekere komponente in veiligheidskringe.”

Groenewald wys daarop dat regter Robert Nugent in sy ondersoek verlede jaar bevind het die eenheid is wettig bedryf.

Dit is beaam deur adv. Thuli Madonsela, vorige OB, asook die Valke en die nasionale vervolgingsgesag.

“Teen hierdie agtergrond moet die vraag gevra word of Mkhwebane bevoeg is vir haar pos.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.