Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
President 'níé mislei oor beurtkrag'

Pres. Cyril Ramaphosa is nié mislei oor die jongste vlaag van beurtkrag nie omdat dit onbeplande onderbrekings is.

Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, het gesê adj.pres. David Mabuza het nie gesinspeel op enige “kwaadwillige bedoelings” toe hy gesê het die Eskom-direksie en Pravin­ Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Ramaphosa mislei deur te sê daar sal tot middel vandeesmaand nie beurtkrag wees nie. 

Die SAUK-joernalis Samkelo Maseko het Mabuza Donderdag in Kimberley gevra: “Misluk die huidige Eskom-direksie, en veral Pravin Gordhan en Jabu Mabuza, Eskom-voorsitter, wat elektrisiteitsopwekking betref? 

“Hulle het die president mislei en gesê daar sal van Desember tot 13 Januarie geen beurtkrag wees nie, maar wel... daar is beurtkrag.”

David Mabuza

Mabuza het daarop gereageer: “Wel, hulle het die president mislei.”

Volgens hom het hy sedert sy en Ramaphosa se besoek aan Eskom daarop aangedring dat die instandhouding van kragstasies uiters belangrik is.

“Jy kan nie sê daar sal geen beurtkrag wees as daar geen doeltreffende instandhouding van die kragstasies is nie. Dit is Eskom se probleem.”

Mabuza het volgens News24 bygevoeg die Eskom-direksie “sukkel om dinge reg te kry”, maar hy sal binnekort met André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, vergader sodat hy “ons presies kan inlig waar ons hom moet bystaan”.

Diko het Donderdag aan TimesLive gesê die noodherstelplan waarmee Eskom in Desember begin het, was meestal suksesvol.

“Ons het geen beplande kragonderbrekings in Desember gesien nie en nou het ons te doen met iets wat heeltemal onbepland was,” het Diko gesê.

Mabuza, Ramaphosa en die res van die ANC se topleiers is vandeesweek in Kimberley in die Noord-Kaap ter voorbereiding van die ANC se 108ste bestaansjaarviering môre.

Ramaphosa het Donderdag aan inwoners van die Roodepan-woongebied in Kimberley gesê Eskom ondervind ernstige probleme weens sy verouderde kragstasies.

“Selfs die twee nuwes, Medupi en Kusile, is ’n teleurstelling. Nes ons dink dit sal aanhou behoorlik werk, skakel dit af of gee die vervoerband in. Wanneer ons dink dat daar stabiliteit is en dat ons geen beurtkrag gaan hê nie, loop iets verkeerd.”

Ons vra ons mense om geduldig te wees terwyl ons die kragstasies in stand hou en seker maak dat die nuwes hul volle kapasiteit kan bereik. Daarmee sal ons ’n stabiele Eskom hê.

Ramaphosa sê wel Eskom en die regering doen alles moontlik om die probleme, veral ten opsigte van die instandhouding van kragstasies, op te los.

“Ons vra ons mense om geduldig te wees terwyl ons die kragstasies in stand hou en seker maak dat die nuwes hul volle vermoë kan bereik. Daarmee sal ons ’n stabiele Eskom hê.

“Terselfdertyd het ons ook ingestem dat daardie maatskappye wat hul eie elektrisiteit wil opwek, toestemming gegee moet word om dit te doen.”

*  Intussen sê die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga dat Mabuza deur sy uitlatings die leiers­vakuum oor Eskom wat Ramaphosa gelaat het, gevul het. 

Die Eskom-krisis het “Rama­phosa se onvermoë blootgelê om ’n krisis te bestuur”, sê Mathekga.

Mathekga meen Mabuza het die geleentheid aangegryp omdat daar geen duidelike politieke leierskap oor Eskom is nie.

“Hy pak Eskom nou direk. Eskom is ’n boelie, arrogant en soek net tariefverhogings sonder om daaroor te kommunikeer.”

Hy meen Mabuza is in voeling met die openbare sentiment teen Eskom en dat Suid-Afrikaners moeg is vir Eskom. 

Ted Blom, ’n energie-ontleder, sê nié Ramaphosa óf Mabuza kan waarborg dat daar geen beurtkrag sal wees nie omdat dit “ ’n stelselgedrewe besluit is om die netwerk teen ineenstorting te beskerm”. 

Meer oor:  Beurtkrag  |  Cyril Ramaphosa  |  Eskom  |  David Mabuza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.