Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Private krag: Nou is Gwede in ’n hoek

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, gaan binnekort die knie moet buig en toegee dat die perk van 10 megawatt (MW) vir kleinskaalse, kommersiële kragopwekking tot 50 MW verhoog word.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Mantashe was die afgelope weke die hoofrolspeler in ’n hewige debat in die regering en die ANC omdat hy die huidige perk van 1 MW tot net 10 MW wil verhoog.

’n Perk van 50 MW gaan tot ’n groot mate ’n private elektrisiteitsmark in die ekonomie ontsluit wat die nasionale netwerk gebruik om krag aan intensiewe verbruikers soos myne en smelters te lewer.

Dit kan tot 5 000 MW nuwe krag by die nasionale netwerk voeg, wat beurtkrag heeltemal kan uitskakel.

Dit sal egter minstens twee jaar duur om die projekte te bou.

Maar Mantashe het tot dusver vasgeskop. Die tyd vir kommentaar op sy voorstel dat private projekte tot 10 MW beperk word, eindig Vrydag. Daarna sal die kwessie vinnig op die spits gedryf moet word.

“Dis ’n reguleringskwessie en ’n inkomste-probleem (vir Eskom) as die perk te hoog is. Ons het die perk van 10 MW voorgestel om te kyk wat die reaksie gaan wees. Tot dusver is daar geen bewys van hoe groot die vraag gaan wees nie,” het Mantashe aan Rapport gesê.

‘Daar is selfs van binne die ANC kwaai druk dat die perk 50 MW moet wees.’

Hy het ook daarop gewys die proses om lisensies te kry om projekte vir meer as die perk aan die netwerk te koppel, is aansienlik makliker gemaak. Dit het vroeër tot vier jaar geduur voordat so ’n lisensie toegestaan is.

“Gold Fields het aansoek gedoen om ’n projek van 40 MW op te rig. Dis in minder as ’n jaar deur Nersa goedgekeur. Daar is nou drie aansoeke vir projekte van meer as 50 MW by Nersa – van Exxaro, Anglo American Platinum en De Beers, wat met die nuwe, vinniger proses beoordeel gaan word,” sê Mantashe.

Volgens hom is ’n perk van 10 MW geen struikelblok om groter projekte aan te pak nie. Dis moontlik om die perk tot net 10 MW te verhoog en terselfdertyd groter projekte binne die lisensiëringsproses te reguleer, soos hy voorgestel het in ’n kennisgewing in die Staatskoerant.

Maar verlede week het sakeorganisasies soos die Energie-intensiewe verbruikersgroep (EIUG), die Mineraleraad en Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) in skriftelike kommentaar op die voorstel gesê die perk moet 50 MW wees om beleggings te lok wat groot genoeg is om binne twee jaar ’n einde aan die probleem van beurtkrag te maak.

Die EIUG meen selfs daar moet geen perk wees nie. Volgens die groep behoort die tegniese oorwegings soos beskikbare infrastruktuur en stabiliteit op die netwerk die enigste redes te wees om ’n kragopwekkingsprojek te beperk.

“Daar is selfs van binne die ANC kwaai druk dat die perk 50 MW moet wees. Daar is ook druk uit die presidensiële ekonomiese adviesraad dat dit 50 MW moet wees,” het ’n bron in die tesourie aan Rapport gesê.

“Dit het nou uitgeloop op wrywing tussen Mantashe se departement en Operasie Vulindlela, die eenheid wat geskep is uit amptenare van die presidensie en die nasionale tesourie om struikelblokke vir ekonomiese groei uit die weg te ruim.”

Die Mineraleraad, wat die mynbedryf verteenwoordig, het in ’n voorlegging aan die departement gesê ’n perk van 10 MW is groot genoeg om verskeie kleinskaalse kommersiële projekte te lok, maar te klein om krag te lewer aan myne en nywerhede.

Agter die skerms in die ANC is daar egter kommer dat dit die lewensvatbaarheid van ’n afsonderlike netwerk-operateur, wat uit Eskom ontbondel word, kan beperk as te veel, groter private kragopwekkers nou reeds toegelaat word om aan die netwerk te koppel.

Dit gaan moeilik wees om nou reeds langtermyntariewe te bereken waarteen krag deur die netwerk gevoer word van private kragopwekkers na verbruikers.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.