Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Private kragopwekking kry wind van voor in parlement

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het dalk Dinsdag die wind sterk van voor gekry oor aspekte van haar private wetsontwerp om goedkoper elektrisiteit te verseker, maar dit het haar nie afgeskrik om haar steeds sterk daarvoor uit te spreek nie.

Sy het die Wetsontwerp op die Onafhanklike Elektrisiteitsbestuursoperateur (IEMO) – ’n private lede-wetsontwerp wat daarop gemik is om goedkoper elektrisiteit te verskaf – aan die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale en energie voorgehou.

Mazzone het verduidelik dat die wetsontwerp daarop gemik is om Eskom se monopolie te verbreek wat betref die opwekking van elektrisiteit.

Natasha Mazzone
Natasha Mazzone Foto: Argief

Ingevolge daarvan moet ’n private maatskappy, die Onafhanklike Elekrisiteitsbestuursoperateur (IEMO), tot stand gebring word.

Dit sal nie ’n staatsentiteit wees nie, maar “ook nie ’n gewone private maatskappy” nie. Aandeelhouding in die maatskappy sal beperk wees – die staat mag nie aandele daarin besit nie. Dit sal funksioneer as ’n openbare-private-vennootskap – soos die Reserwebank.

’n Direksie van tien direkteure sal die maatskappy bestuur, waarvan vyf deur die minister van minerale bronne en energie en vyf deur die aandeelhouers aangestel sal word.

“IEMO sal help om die mark vir die opwekking van elektrisiteit vir ander rolspelers oop te maak. Onafhanklike kragprodusente sal die geleentheid gegee word om dieselfde toegang tot die elektrisiteitsmark te hê as Eskom. Die onafhanklike kragprodusente sal self die risiko neem vir die opwekking van elektrisiteit en IEMO sal slegs betaal vir elektrisiteit wat gelewer word en vir die stabiliteit wat verskaffing betref.”

Die funksies van die onafhanklike operateur sal volgens Mazzone onder meer die bestuur van die elektrisiteitsnetwerk behels. Dit sal ook as ’n handelaar optree in pas met regeringsbeleid, deelneem aan die beplanning vir kragverskaffing; die instandhouding van die kragnetwerk, en doeltreffende kragverspreiding verseker.

Openbare funksies kan nie uitgevoer word deur ’n private maatskappy nie omdat dit ’n funksie van die staat is.

Verskeie LP’s, insluitende Mikateko Mahlaule, ANC-LP, het die feit dat die IEMO ’n private maatskappy sal wees, as “problematies” bestempel. Hy het daarop gewys dat die wetsontwerp ’n “private maatskappy skep om ’n openbare funksie” te verrig.

“Openbare funksies kan nie uitgevoer word deur ’n private maatskappy nie omdat dit ’n funksie van die staat is,” het hy aangevoer.

Mazzone het hierop gesê dat mededinging noodsaaklik is in ’n groeiende ekonomie en dat ’n monopolie soos Eskom klaaglik in sy taak misluk het. “Ons moet baie eerlik wees met mekaar dat Eskom kaal uitgetrek is deur parasiete wat verantwoordelik was vir staatskaping. Die argitekte van staatskaping was in beheer van dié monopolie wat letterlik die land as gyselaar geneem het.”

Eskom is volgens haar bankrot en beskik nie oor die vermoë om voort te gaan as ’n lopende saak sonder herhaalde reddingsboeie van die staat nie. Sy skuld beloop R420 miljard, wat hy nooit sal kan terugbetaal nie.

“Ons moet ook die naakte waarheid in die gesig staar dat ons nie gewaarborgde energieverskaffing in die land het nie,” het Mazzone gesê.

Ook Vuyolwethu Zingula, ATM-LP, het opgemerk dat dit problematies is om ’n private maatskappy in die elektrisiteitsektor te hê, en het aangevoer dat IEMO “bedekte privatisering” is.

Dumisane Mthenjane, EFF-LP, het gesê sy party “kan nie saamstem met privatisering nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.