Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Private landbouprojek ‘bring hoop vir grondkwessie’

’n Nuwe private landbouprojek wat opkomende boere gaan bystaan, die Agricultural Development Agency (ADA), gaan binne maande in Suid-Afrika gestalte kry.

Volgens Roelf Meyer, wat as fasiliteerder tussen die regering en die private sektor optree, was die versoek vir so ’n projek grootliks van gevestigde kommersiële boere afkomstig.

“Dit gaan hoofsaaklik ’n private inisiatief wees gedryf deur private geld en steun, maar in samewerking met die staat.

“Die staat is belangrik omdat geen groot finansiële bron geld gaan belê sonder die staat se stempel nie. Dit geld veral buitelandse kapitaal, wat ons gaan nodig hê,” sê Meyer.

Volgens hom het van die kommersiële boere gesê hulle wil ’n bydrae lewer om transformasie te bewerkstellig, maar hulle weet nie hoe of deur watter voertuig nie. Die idee het grootliks uit gesprekke met hulle ontstaan en Meyer en sy span van die In Transformation Initiative is besig om die betrokke rolspelers byeen te bring.

Hulle tree bloot as fasiliteerders op totdat die organisasie en strukture gevestig is en die agentskap as ’n sake-instelling kan funksioneer.

“Die voordeel wat die In Transformation Initiative bied, is dat ons toegang tot die staat en die private sektor kan bewerkstellig.

“Gesprekke is met landbousakeorganisasies soos Senwes en Afgri gevoer en hul steun verkry. Dieselfde geld landbou-organisasies Agri SA, Afasa en Asuf. Daar is nog geen formele verbintenisse met enige van hulle nie, maar die konsep kry nou gestalte.

“Ons span doen intensiewe beplanning en voorbereiding en ek kan met genoegdoening sê ons het verlede week met Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, in Kaapstad vergader.

Sy het in beginsel haar steun gegee. Dit magtig ons om met die konsep voort te gaan. Sy het ook baie belangrike uitvoerbare en toepaslike riglyne verskaf, soos dat ons op ’n distriksgrondslag moet begin en die bloudruk dan na ander distrikte moet uitrol.

“Twee goed was uit die gesprek duidelik: die aanvaarding van die idee van private bemagtiging in landbou, asook dat die gronddebat ’n oplossing het. Sy was voorsitter van die parlementêre komitee wat die grondkwessie hanteer het, so dis belangrik om na haar te luister. “Ek is opgewonde, want daar ís ’n oplossing – ons moet net verby die geraas beweeg en dit vind.”

Volgens Meyer het Nic Serfontein van Agri SA aan boere gesê daar is een hoop oor en dit is die ADA, wat as voertuig gebruik moet word.

“As boere so iets sê, dien dit as aansporing en wil ons seker maak dit sal werk. Dit is hoekom ek verlede week by die minister was.”

Hy benadruk dat die noodsaak van grondhervorming nie eens debatteerbaar is nie, en van meet af aan ’n grondwetlike bepaling was.

Dit het grootliks misluk omdat beleid nie uitgevoer is nie.

“Die ander kant van die munt is dat die landboubedryf bo sy vermoë presteer en ’n baie belangrike rol kan speel om Suid-Afrika en die ekonomie om te draai. Daar is 26 kommoditeite wat netto uitvoerders is, wat betekenisvol is.

“ ’n Balans moet getref word en ek is opgewonde dat dit haalbaar is. Die landboubedryf kan homself weer vestig, omdat die wêreld se behoefte aan kos net al hoe groter raak. Ons uitvoerpotensiaal is enorm en ons beskik oor uitstekende boerdery-vermoë,” sê Meyer.

Meer oor:  Roelf Meyer  |  Landbou  |  Grondkwessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.