Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Private sektor ‘groot deel van plan om ekonomie te red’

Die nuwe ekonomiese herstelplan van die regering skeep allermins die private sektor af, het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag gesê.

Hy het deelgeneem aan ’n vurige parlementêre debat oor dié plan wat veronderstel is om Suid-Afrika uit sy huidige ekonomiese insinking op te hef.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het aan die begin van die debat gesê die staat sal ’n sentrale rol speel in die toepassing van die plan. Volgens haar sal die sukses van die plan boonop rus op ’n bevoegde staat.

’n Verslag oor die vordering van die toepassing van die plan, wat sperdatums en teikens het, sal maandeliks oorhandig word aan die ekonomiese herstelraad, waarvan Ramaphosa die voorsitter is. Haakplekke sal vinnig bespreek en uit die weg geruim kan word.

Ingevolge die plan wil die staat onder meer R100 miljard bestee om in die volgende vyf maande 800 000 poste te skep. Die DA en die VF Plus het albei die regering gekap omdat die regering die staat só ’n groot rol wil laat speel in die herstelplan.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die regering wil die private sektor nooi om in infrastruktuur te belê terwyl die regering die “projekbestuurder” is.

Korrupsie en swak bestuur deur die regering sal egter volgens hom die herstelproses verswak.

“Boonop wil die staat werk skep deur belastingbetalers se geld te gebruik. Die regering moet ’n kopskuif maak.”

Ramaphosa het egter in reaksie op die debat erken dat die “private sektor verreweg die grootste dryfveer van werkskepping is. Daarom het ons dringende stappe gedoen om ekonomiese aktiwiteite te hervat en erns gemaak van strukturele hervormings oor energie, telekommunikasie, vervoer en die gemak om sake te kan doen.

“Dit sal egter tyd neem vir die arbeidsmark om te herstel. Daarom word daar gefokus op werkskeppingsprogramme deur die staat. Ons is nie die enigste land wat dit doen nie.

“Die openbare en private sektor moet albei poste op groot skaal skep. Die regering moet ekonomiese aktiwiteit stimuleer en die private sektor oortuig om te belê,” sê Ramaphosa.

Boonop wil die staat werk skep deur belastingbetalers se geld te gebruik. Die regering moet ’n kopskuif maak.

Die doel van die plan is volgens hom nie net om die land te laat herstel tot op die vlak waar hy voor die pandemie was nie, maar om die land uit die “ekonomiese gat” van die afgelope jare op te hef.

Volgens hom moet Suid-Afrikaners nou saamwerk om dié gemeenskaplike doel te bereik. Ramaphosa het kritici gelyk gegee wat sê die regering het nie sy vorige planne toegepas nie.

“Dié keer is daar egter ’n nuwe ywer. Die ywer is gebore uit die kritieke en dringende situasie waarin ons ons bevind – midde in ’n verwoestende en ongekende ekonomiese inkrimping.”

Ramphosa sê die regering wil met die plan op ’n paar faktore fokus om dit vinnig en doeltreffend toe te pas. Die fokuspunte is infrastruktuur, werkskepping, kragverskaffing, die vermoë van die staat en maatreëls wat plaaslike vervaardiging sal bevorder.

Tito Mboweni, minister van finansies, sal volgende week daaroor uitwei in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Herstelplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.