Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Private sektor kan nou treine oorvat

Pres. Cyril Ramaphosa wil twee van die land se besigste pendelaar-treinroetes privatiseer om meer bekostigbare openbare vervoer aan bykans ’n miljoen mense beskikbaar te stel.

Nuwe planne nodig: Jeppe-stasie in Johannesburg is in ’n haglike toestand. Foto: Deon Raath

Ramaphosa het Donderdag in sy toespraak oor die regering se ekonomiese herstelplan gesê die regering wil “groter deelname van die private sektor in spoorvervoer bevorder deur derde partye toegang te gee tot die spoornetwerk”.

Alhoewel die president nie uitgestippel het wat dit presies beteken nie, was sy raadgewers in die presidensie baie meer spesifiek: Die bedoeling is die privatisering van spoorpendel­dienste met die land se twee besigste spoorlyne, van Mabopane na Tshwane in Gauteng en die Kaapstadse sentrale voorstedelike roete van Kaapstad na Khayelitsha wat die hoogste voorkeur gaan kry, het ’n raadgewer in ’n voorlegging aan die media gesê.

Op die inligtingsessie met Trudi Makhaya, Ramaphosa se ekonomiese raadgewer, dr. Kgosientso Ramokgopa, hoof van beleggings en infrastruktuur in die presidensie, en Rudi Dicks, hoof van die kantoor vir projekbestuur, het hulle herhaaldelik gesê die herlewing van spoorvervoer vir pendelaars sowel as vir vrag is ’n deurslaggewende deel van die regering se plan om die ekonomie te herbou.

Ramaphosa het in sy toespraak voor albei huise van die parlement beloof dat die modernisering en die herstel van die spoornetwerk binne die volgende ses maande in volle gang sal kom.

Regeringswoordvoerders wat ná die toespraak om kommentaar genader is, was versigtig om meer te sê, maar rolspelers in die private sektor was dadelik opgewonde.

‘Prasa is ’n gebroke entiteit.’

“Toegang vir derde partye uit die private sektor op spoorlyne is presies waarvoor ons al jare lank vra.

“Dit is wat wêreldwyd as die privatisering van spoordienste verstaan word,” het Mesela Nhlapo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Spoorwegvereniging, ’n organisasie wat alle rolspelers in die spoorweg­bedryf verteenwoordig, gesê.

Volgens haar gebeur dit selde dat spoorlyne self geprivatiseer word. Dit word gedeel deur maatskappye wat vrag- en passasierstreine bedryf en met mekaar meeding.

Die algemeenste manier om treindienste te privatiseer, is deur openbare-private vennootskappe waarin die regering as ’n neutrale rolspeler verantwoordelik is vir die veiligheid, bedryf en instandhouding van spoorlyne.

Pendel- en vragdienste word dan deur private operateurs bedryf.

“As dit die plan is, kan dit iets word wat enorme geleenthede ontsluit. Dit kan ook daarop uitloop dat die vaste eiendom soos treinstasies waardevolle kleinhandeleiendom word,” het Nhlapo gesê.

Sy sê wetgewing wat dit sal moontlik maak, is in ’n gevorderde stadium in die parlementêre proses.

Die wetsontwerp op die ekonomiese regulering van vervoer sal waarskynlik voor einde vanjaar deur die parlement gevoer word.

Die wet sal ’n liggaam soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) vir die spoorweë op die been te bring, wat die spoornetwerk sal bestuur en in stand hou en die gebruik daarvan sal reguleer.

Dit sal egter moeilik wees om beleggers na veral passasiersdienste te lok weens die korrupsie, wetteloosheid en enorme skade wat veral die afgelope halfjaar aan die land se spoorinfrastruktuur aangerig is.

Die skade is inderdaad enorm.

TimesLive het verlede maand berig dat net sewe van Metrorail se 34 spoorroetes nog funksioneer.

Vandalisme, wat reeds voor die inperking buite beheer was, het die afgelope paar maande astronomiese afmetings aangeneem.

Waar kabeldiefstal voorheen die grootste probleem was, is hele stasies tydens die inperking verwoes of weggedra.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het in Junie op ’n parlementêre vraag van Mike Waters van die DA gesê die Mabopane-Tshwane-treinroete in die noorde van Gauteng – een van dié wat nou toegewys is vir privatisering – het daaglikse treindienste oor die afgelope paar jaar verminder van altesame 388 treine tot 79.

Dit beteken dat meer as 350 000 pendelaars nou van ander vervoer gebruik moet maak.

Aan die Wes-Rand het treindienste verminder van 306 per dag tot 100, wat meer as 230 000 pendelaars noop om van duurder padvervoer gebruik te maak.

Net in Gauteng word bereken dat sowat 700 000 treinpendelaars nie meer treindienste kan gebruik nie weens die vandalisme toe veiligheidsdienste gestaak is tydens die inperking.

In Kaapstad is infrastruktuur tot so ’n mate vernietig dat dienste op die besige hooflyn van Khayelitsha na Kaapstad (die lyn wat nou toegewys is vir privatisering) reeds in Oktober verlede jaar opgeskort is.

Die situasie in die stad is vererger deur ’n vlaag vandalisme waartydens meer as 200 treinwaens die afgelope vyf jaar aan die brand gesteek is.

Die regering se besluit om treinpassasiersdienste te begin privatiseer word verder genoodsaak deur die feit dat die Passasierspooragentskap (Prasa), die staatsbeheerde entiteit wat passasierspoordienste in die land bedryf, reddeloos bankrot is.

Mbalula het vroeër vanjaar in die parlement gesê Prasa ly kontantverliese van R672 000 per dag weens die groot getal treindienste wat opgeskort is.

Dit sluit nie die kapitaalverliese weens vandalisme en diefstal in nie.

Mbalula het in Desember verlede jaar reeds die Prasa-raad ontbind, en die entiteit onder administrasie geplaas met Bongisizwe Mpondo as administrateur.

“Die realiteit wat ons in die gesig staar, is dat Prasa ’n gebroke entiteit is,” het Mpondo kort ná sy aanstelling verklaar.

Bedryfsleiers wys daarop dat die grondslag vir die hernuwing van die Suid-Afrikaanse voorstedelike treinnetwerk reeds gelê is met die totstandkoming van die Gibela-konsortium waarin Alstom, een van die wêreld se grootste vervaardigers van treinstelle, ’n aandeel het.

Prasa het in 2014, destyds nog onder die beheer van die omstrede Lucky Montana, ’n R53 miljard-kontrak met Gibela/Alstom gesluit om Prasa se verouderde vloot treine te vervang.

Aanvanklik is dié treine vanuit Brasilië ingevoer.

Gibela het intussen ’n nuwe fabriek by Dunnottar aan die Oos-Rand gebou waar hulle uiteindelik hoop om 62 treinstelle (van ses waens elk) per jaar te bou.

Talle van dié blou Suid-Afrikaans-vervaardigde treine loop reeds in Gauteng en Kaapstad.

Meer oor:  Mesela Nhlapo  |  Openbare Vervoer  |  Prasa  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.