Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Prof. Linda oor adjunkhoof wees by NWU

Prof. Linda du Plessis, adjunk-visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlpark­kampus, is onlangs as die NWU se eerste vroulike adjunkhoof aangestel.

Dié pos is tot einde verlede jaar deur prof. Fika Janse van Rensburg beklee.

Prof. Linda du Plessis

“Ek sien myself as ’n diensbare leier en ons samelewing het gelukkig so verander dat jou leierskapvermoëns, pleks van jou ras of geslag, op die voorgrond is,” sê Du Plessis oor haar aanstelling.

“Op ’n ligter noot dink ek om ’n ma van drie kinders te wees is ’n baie goeie leerskool vir die ontwikkeling van eienskappe soos geduld, humor, tydbestuur en ’n klompie goed op een slag hanteer.”

Du Plessis is reeds aan die stuur van die bedrywighede op die Vanderbijlparkkampus, maar sy is nou ook verantwoordelik vir bestuurs-, administratiewe en toesighoudende pligte.

Indien prof. Dan Kgwadi, visekanselier, nie sy pligte kan uitvoer nie, moet Du Plessis vir hom instaan.

“Die grootste verandering is dat ek die universiteit op meer nasionale forums sal moet verteenwoordig.

“Dit neem ekstra tyd, maar met goeie beplanning, bestuurstrukture, die ondersteuning van my man, Jannie, en my kinders, asook die tegnologie wat videokonferensies moontlik maak, sien ek uit na die jaar,” sê Du Plessis.

Sy beoog om saam met die res van die senior bestuur te verseker dat elke personeellid bemagtig is om sy werk te doen en dat elke student gehaltediens kry.

Volgens Du Plessis is daar talle uitdagings in die land se hoëronderwysstelsel.

“Ons is een skakel in die groter onderwysstelsel en staan nie onafhanklik van dit wat in skole en ander tersiêre instellings gebeur nie.

“Die twee grootste uitdagings is om finansiële volhoubaarheid en gehalte te verseker.

“Die inskrywingsplanne van die universiteit moet fyn bestuur word om te verseker dat ons personeel en hulpbronne optimaal benut word.”

Dit wat ek lees en navors en die netwerke wat ek bou, is waardevol en dit voel nie eens soos ’n ekstra lading nie – eerder ’n bonus.

Du Plessis het meer as 25 jaar ervaring in die hoër onderwyssektor.

Sy is destyds as die eerste vroue- viserektor van die NWU se Vanderbijlparkkampus aangestel en in 2016 is sy as die eerste vrouekampusrektor aangestel.

Du Plessis is ná die strategiese herstruktureringsproses in 2017 as die adjunkvisekanselier vir beplanning aangestel.

Du Plessis het verskeie toekennings op die gebied van leierskap en navorsing op haar kerfstok.

As ’n strateeg is sy welbekend vir haar toewyding en fokus in die oorsig van hoëprofielprojekte.

Dié akademikus is boonop tans vir ’n tweede doktoraal in hoëronderwysbestuur aan die Universiteit van Bath in Brittanje ingeskryf.

Sy het haar PhD in 2002 aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi.

Dié raakvatter het gelukkig goeie tydbestuur.

Boonop sal haar werk juis haar studies vergemaklik.

“Dit wat ek lees en navors en die netwerke wat ek bou, is waardevol en dit voel nie eens soos ’n ekstra lading nie – eerder ’n bonus.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.