Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Proses vir onteiening gaan voort, sê komitee
Dr. Mathole Motshekga Foto: Daily Sun

Die proses om die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, gaan voort.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die parlementêre proses vir dié grondwetlike wysiging lei, het dít Maandag bevestig.

Motshekga het bygevoeg dat die publiek steeds tot 13 Augustus vanjaar kans het om kommentaar te lewer op die hersiene wysigingswetsontwerp wat die ad hoc-komitee verlede maand uitgereik het.

Sy reaksie kom nadat die Sunday Times Sondag berig het dat die ANC beplan om dié proses voortaan op sy eie af te handel nadat sy bilaterale gesprekke met die EFF daaroor skipbreuk gely het.

Dit volg nadat Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, wat die ANC se bilaterale gesprekke met die EFF gelei het, aan dié koerant gesê het dat die ANC nie die “vernietigende Zimbabwe-roete ondersteun soos vervat in die EFF se eis dat alle grond onder staatsvoogdyskap geplaas moet word in ruil vir die EFF se steun vir die wysigingspoging nie”.

Die ANC benodig die EFF se steun vir die vereiste tweederde-meerderheid daarvoor in die parlement.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, het Lamola se uitlatings aan die Sunday Times in ’n twiet as “erg misleidend en oneerlik” beskryf.

“Ons het konsensus in die komitee en selfs met senior ANC-leiers opgebou en hy (Lamola) het weggebreek om sy CR-faksie te mobiliseer om die konsensus teen te staan. Ons sal in besonderhede reageer,” het hy gesê.

Motshekga het dié uitval tussen die ANC en EFF Maandag as ’n “sideshow” beskryf. “Wat ineengestort het, is die ANC se bilaterale gesprekke met die EFF onder leiding van Lamola. Dié gesprekke was ’n geleentheid wat hulle gegun is om mekaar te probeer vind. Ooglopend het dit nie gewerk nie.

“As die parlement en ad hoc-komitee het ons ’n hersiene wetsontwerp gepubliseer vir openbare kommentaar. Die aangeleentheid is dus nou in die hande van die Suid-Afrikaanse publiek – nie tussen die ANC en EFF nie. Die spertyd vir openbare kommentaar bly steeds 13 Augustus.”

Die publiek is op 16 Julie vanjaar deur die ad hoc-komitee uitgenooi om kommentaar te lewer op die hersiene 18de grondwetlike wysigingswetsontwerp.

Die komitee het toe in ’n verklaring gesê die doel van die hersiene wysigingswetsontwerp is om die Grondwet te wysig om onder meer te bepaal dat “waar grond en enige verbeterings daarop vir grondhervormingsdoeleindes onteien word, die vergoedingsbedrag betaalbaar nul mag wees”.

Dit is luidens die wetsontwerp ook vir nasionale wetgewing om die omstandighede te spesifiseer vir waar die vergoedingsbedrag nul mag wees.

Verder is dit ook vir die “invoeging van ’n nuwe onderafdeling om toe te laat dat grond die gemeenskaplike erfenis van alle burgers is wat die staat vir toekomstige geslagte moet beskerm, sowel as vir die vervanging van die subartikel om te vereis dat voorwaardes geskep moet word om staatsvoogdyskap van sekere grond moontlik te maak sodat burgers op ’n billike grondslag toegang kan hê tot grond”.

Meer oor:  Grondondeiening  |  Onteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.